Vaalharts-moorde: Saak kom dán weer voor

Vaalharts-moorde: Hartswater-landdroshof (Foto: Verskaf)

Die vyf verdagtes wat vasgetrek is in verband met die moord op die Brand-gesin, Dan (83), Breggie (79) en hul dogter Elzabie, het Donderdag weer vlugtig in die Hartswater-landdroshof in die Noord-Kaap verskyn op aanklagte van moord, ontvoering en roof. Die saak is weer uitgestel.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, sal die vyf verdagtes, Khomotso Mpumlwana (43), Tshepo Visagie (36), Tshepo Seolesang (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (18), na verwagting weer op 27 Augustus in die hof verskyn.

Mpumlwana se aansoek om borgtog sal dán in die hof aangehoor word. Die ander verdagtes het nie aangedui of hulle ʼn borgtogaansoek gaan bring nie.

Ramatseba het intussen bevestig ʼn Sahara-skootrekenaar en ʼn Samsung J5-selfoon wat aan die Brand-gesin behoort het, is in ʼn pandjieswinkel in die Taung-omgewing gevind. Hy sê hierdie items is vir R400 aan die pandjieswinkel verkwansel.

Volgens Ramatseba het die polisie ook ʼn handsak by Mpumlwana se huis gevind. Die handsak het verskillende kaarte, waaronder rybewyse, identifikasie van dokumente en winkelkaarte, bevat.

Honderde voertuig het Donderdag weer na die hof opgeruk (Foto: Verskaf)

Die Brand-egpaar se liggame is op 28 Julie in die omgewing van die Takaneng-nedersetting in Taung in Noordwes gevind. Elzabie se liggaam is vroeër in dieselfde omgewing opgespoor. Maroela Media het vroeër berig die drie is vermoedelik reeds die Sondagmiddag ontvoer tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe in die Vaalharts-omgewing naby Hartswater. Daar was tekens van ʼn struweling en bloedspatsels in die huis.

Honderde mense het einde Julie toe die verdagtes die eerste keer in die hof verskyn het, voor die hof byeengekom. Lede van die gemeenskap het van Jan Kempdorp, Magogong en Hartswater in hul plaasbakkies, motors, vragmotors en selfs op hul trekkers na die hof gery om hul stem dik te maak oor die moord op die Brand-gesin.

Frederik van Zyl, ʼn veiligheidsverteenwoordiger van die Vaalharts-gemeenskapsveiligheidseenheid, sê die gemeenskap het Donderdag weer in honderde voertuie na die hof opgeruk.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die motief vir die aanval is vermoedelik roof. Die gesin se twee voertuie, ʼn Nissan Micra en ʼn Mazda CX5, is tydens die aanval gesteel. Al twee voertuie is later opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Wens ek kan ook daar wees. Ons moet saam staan en verhoed dat hulle vry kom of ooit parool kry.

Werner ·

Wel hulle gaan seker almal borg kry want die polissie dink die terroriste aanval se moontlike mootief is roof

saggiespraat ·

Al kan ons nie daar wees, Ons Jesus sien alles en ons gebede is daar. En ek glo dat ons eendag in die Hemel
saam gaan kom en net vroolik wees sonder vrees en seer.

Peetjie ·

Hulle reken die bedoeling was roof???? Die bedoeling was aanval met die bedoeling om ernstig te beseer / vermoor. As hulle net wou roof, vat dit wat julle soek en gaan weg, maar die mense is sekerlik op die wreedaardigste manier vermoor..

Prikkie ·

En so gaan hulle nou vir maande of selfs jare aanhou om “vlugtig” te verskyn.

Hoekom vat dit so lank in die land om moordenaars in die hof te kry, die verhoor af te handel en daardie mense te sit waar hulle hoort?

Sandra ·

Hulle het nog die flippin vermetelheid en geleentheid om vir borgtog aansoek te doen? Hulle hoort agter tralies waar hulle oor hulle sondes kan dink.

Althes ·

Ek is bly dat mense van die gemeenskap opruk na die howe.
Wanneer daar nie mense betoog nie, lyk dit of ñ plaasmoord nie belangrik is nie.

Nico ·

Die howe is net besig om geld te mors om die sake so uit te stel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.