Vaalharts-moorde: Vroueverdagte hoor oor borgtog

Vaalharts-moorde: Hartswater-landdroshof (Foto: Verskaf)

Die Vaalharts-gemeenskap is tevrede met die hof se besluit om nie borgtog toe te staan aan die vrou wat verbind word met die moord op die Brand-gesin nie.

Kgomotso Mpumlwana (43) se formele borgtogaansoek is Donderdag in die Hartswater-landdroshof van die hand gewys. Sy het verlede Donderdag haar borgtogaansoek ingedien.

Sy het saam met die ander vier verdagtes, Tshepo Visagie (36), Tshepo Seolesang (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (18), in die hof verskyn.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, het Donderdag aan Maroela Media gesê die ander verdagtes het nie om borgtog aansoek gedoen nie.

“Die verdagtes sal in aanhouding bly tot hulle weer op 29 Oktober in die hof moet verskyn,” sê Senokoatsane.

Frederik van Zyl, ʼn veiligheidsverteenwoordiger van die Vaalharts-gemeenskapsveiligheidseenheid, het die Vaalharts-gemeenskap en boere bedank vir hul ondersteuning die afgelope tyd.

“Die gemeenskap het soos een man saamgestaan teen hierdie gruwelike moorde,” sê Van Zyl.

Die gemeenskap het met al die vorige hofsake in voertuie na die landdroshof saamgetrek. Honderde mense het einde Julie toe die verdagtes die eerste keer in die hof verskyn het, voor die hof byeengekom. Lede van die gemeenskap het van Jan Kempdorp, Magogong en Hartswater in hul plaasbakkies, motors, vragmotors en selfs op hul trekkers na die hof gery om hul stem dik te maak oor die moord op die Brand-gesin.

Op daardie dag is ʼn memorandum aan die staatsaanklaer by die hof oorhandig waarin geëis is dat plaasaanvalle en -moorde end kry en dat borgtog nié aan die vyf verdagtes toegestaan sal word nie.

“Ons as gemeenskap is verlig en dankbaar dat die hof nie die borgtog toegestaan het nie.” Van Zyl sê die gemeenskap is ook dankbaar vir die polisie se hulp en bydrae tot die saak.

Dan (83), Breggie (79) en hul dogter Elzabie is in Julie vermoor. Die Brand-egpaar se liggame is op 28 Julie in die omgewing van die Takaneng-nedersetting in Taung in Noordwes gevind. Elzabie se liggaam is vroeër in dieselfde omgewing opgespoor. Maroela Media het vroeër berig die drie is vermoedelik reeds die Sondagmiddag ontvoer tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe in die Vaalharts-omgewing naby Hartswater. Daar was tekens van ʼn struweling en bloedspatsels in die huis.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, het middel Augustus bevestig ʼn Sahara-skootrekenaar en ʼn Samsung J5-selfoon wat aan die Brand-gesin behoort het, is in ʼn pandjieswinkel in die Taung-omgewing gevind. Hy sê hierdie items is vir R400 aan die pandjieswinkel verkwansel.

Volgens Ramatseba het die polisie ook ʼn handsak by Mpumlwana se huis gevind. Die handsak het verskillende kaarte, waaronder rybewyse, identifikasie van dokumente en winkelkaarte, bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

3 MENSE is vermoor. Vir R400. 00!!! En dan wil sy borg hê?!!!!!

Pieter J

Ek is nuuskierig om te weet wat haar motivering vir die aansoek om borgtog was. Wat maak haar anders as die ander vier moordenaars wat deel van die groep was.

Persheks

Vermetelheid genugtig! Sy kan sit en vir lank ook

JohanR

Ek sal nooit daarby uitkom hoe jy drie mense kan martel, steek, ‘n klip op die kop gooi en ophang. Soos Bylsma, sekerlik weet jy PRESIES waarmee jy besig is. Waar kom al die haat vandaan? Ek het nooit by iemand gevra of weggevat nie. Het op 19 my eertse werk gekry, en daar vandaan aangegaan om net elke maand te probeer oorleef. Het eers op 45 my eerste woonstel gekoop en hom in 11 jaar af betaal deur extra elke maand in te druk. Ek weet van wit mense wat vir ‘n jaar ge-sacrifice het om uit te eet.… Lees meer »