Vaalrivier in vloed in Standerton

(Foto: Verskaf)

Van die strate naby die Vaalrivier en in die sakegebied van Standerton, Mpumalanga, was Vrydagoggend onder water nadat swaar reën oornag in die gebied uitgesak het.

Inwoners in hierdie dele van die dorp is gestrand en ʼn groot deel van die dorp sit sonder krag omdat kragsubstasies onder water is.

Van die winkels in die sakegebied het waterskade opgedoen, terwyl sommige skole ook kinders huis toe gestuur het.

(Foto: Verskaf)

Die AfriForum-buurtwag is saam met ander hulpverleners sedert Vrydag vroegoggend besig om met roeibote en rubberbote die gebiede naby die Vaalrivier te fynkam vir mense wat hulp nodig het.

Hulpverleners by hierdie reddingspogings betrokke is Kasselman-sekuriteit, ER24-nooddienste, Delta 1 Rescue Diving, die Lekwa-munisipaliteit en die munisipaliteit se brandweerdiens.

“Op die oomblik weet ons nog nie hoeveel mense steeds vasgekeer is nie, maar ons sal alles in ons vermoë doen om by elkeen uit te kom,” sê Leon Enslin, voorsitter van die Standerton se AfriForum-tak.

Die omvang van die skade is nog onbekend.

Hillel Coetzer, ʼn inwoner van die dorp, sê oorstromings is ʼn gereelde verskynsel en dié oorstroming hou tot dusver nie so ʼn groot gevaar vir die dorp in nie.

“Indien dit aanhou reën, kan nog water in die dorp inkom. Die munisipaliteit het reeds nog van die sluise in die Grootdraaidam in die Vaalrivier oopgemaak,” sê Coetzer.

Dié dam is tans 112,26% vol en drie sluise is reeds oopgemaak.

Rivierpark direk langs die Vaalrivier op die dorp is vir die publiek afgesper weens die rivier wat sterk deur dié area vloei.

Die volgende strate is ook gesluit: Rooikoppenpad, Handelstraat, Princess-straat en Burgerstraat.

Volgens die Lekwa- plaaslike munisipaliteit sal die Standerton-rampbestuurder binnekort vergader om te besluit of die Meyerville-brug gesluit sal word

Volgens Coetzer spoel die rommel wat in Rivierpark gestrooi is nou deur die strate en word deur die rivier meegesleur.

Coetzer meen die munisipaliteit en departement van waterwese was onverantwoordelik om nie vir moontlike oorstromings voor te berei nie. Daar was Sondag reeds ʼn vlak 1-waarskuwing vir oorstromings op die dorp uitgereik.

“Die munisipaliteit tree reaktief op. Hulle kon al twee weke gelede, toe die dam oorvol geraak het weens die baie reën, begin beplan het om oorstromings op die dorp te verhoed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Voor die vloede was daar erge verval. Dit gaan nou erger wees. Maar ‘n ramptoestand sal nuwe noodfondse los laat.

Tanniepetoors ·

Blykbaar word daar nie meer enige erkenning of waarde geheg aan 100-jaarvloedlyne nie. Dink die mense regtig dat Moeder Natuur hulle hulle minagting gaan aanvaar?

Vonny ·

En al die water loop see toe.
Geen nuwe Damme in
30jr gebou….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.