Vaalrivier-ramp met aktivisme, strafregtelike klagtes en rehabilitasie gepak

Foto: AfriForum

Die besoedeling van die Vaalrivier het die afgelope paar maande in ’n ramp ontaard.

AfriForum het intussen ʼn veldtog van stapel gestuur om die rivier en die omgewing te rehabiliteer.

Die veldtog is in Parys, waar die Ngwathe-munisipaliteit jurisdiksie het, van stapel gestuur aangesien die ergste besoedeling hier sigbaar is. “Onbehandelde riool word hier in die rivier gestort, wat tot talle vissterftes gelei het,” volgens Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.

Pawson het gesê die veldtog behels ’n innoverende benadering wat die huidige omgewingsramp gaan help beredder deur aktiewe (goeie) bakterieë in die water vry te laat om die riool af te breek en suurstof in die rivier terug te sit. Dit sal hopelik verhoed dat verdere fauna en flora vrek.

AfriForum wou ’n memorandum oor die munisipaliteit se swak water- en rioolbestuurspraktyke aan Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder, oorhandig, maar hy het glo geweier om dit te aanvaar.

“Saam met die memorandum wou ons ook dooie visse, riool- en drinkwatermonsters (wat nie aan die nasionale standaarde voldoen nie) oorhandig. E. coli-vlakke in die rivierwater is hoër as wat ’n geakkrediteerde laboratorium kan meet.

Foto: AfriForum

“Dit dui daarop dat die water wat uit Parys se rioolwerke vloei nie behoorlik – of enigsins – gesuiwer word nie. AfriForum het ook ’n strafregtelike klagte in hierdie verband teen Kannemeyer ingedien,” sê Pawson.

Volgens Stephen Nel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die sentraalstreek, gaan Parys voortdurend onder waterprobleme gebuk. “Die inwoners van Parys sukkel gereeld met onvoldoende watertoevoer en kraanwater wat stink en waarvan die kleur van bruin tot groen wissel.

“Intussen ly talle besighede langs die rivier ook groot verliese weens die besoedeling – sonder dat die munisipaliteit enige daadwerklike plan van aksie aan inwoners kommunikeer. AfriForum se Parys-tak het vroeër vanjaar die munisipaliteit weens hul kommer oor die besoedeling in die Vaalrivier genader. Ten spyte van beloftes dat hulle daaraan sal aandag gee, het die munisipaliteit niks gedoen om die situasie te beredder nie.

“Die besoedeling in die Vaalrivier is strafregtelik strafbaar en dit gebeur landswyd in ander riviere ook. AfriForum sal binnekort sy blou-en-groendruppelverslag vir 2018 bekend stel wat vir die sesde agtereenvolgende jaar toon dat byna 80% van Suid-Afrika se rioolaanlegte wanfunksioneel is of glad nie funksioneer nie. Die regering stort daagliks omtrent 5 000 megaliter gedeeltelik behandelde of onbehandelde riool in riviere,” sê Pawson.

Foto: AfriForum

Alle AfriForum-takke langs die Vaalrivier gaan soortgelyke aksies in hul onderskeie dorpe aanpak. Mediumtermynaksies sal fokus op die herstel van rioolpompe en -aanlegte, wat die grootste bron van besoedeling is.

“AfriForum se langtermyndoelwitte met hierdie projek is die skep van bekostigbare gemeenskapinfrastruktuur met die nuutste tegnologie sodat gemeenskappe self hul water kan suiwer sonder om op die regering te wag.”

Volgens Nel hoop AfriForum dat hierdie aksie tot beter kommunikasie deur die munisipaliteit sal lei en dat ’n aksieplan binnekort uitgevoer sal word om die situasie te beredder. “AfriForum sal die situasie deurlopend moniteer. Mense wat wil help om riviere te rehabiliteer, kan op AfriForum se webwerf registreer om aan die volgende rehabilitasie-aksie deel te neem. Saam kan ons die Vaalrivier red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

jennefer ·

Die Nyl rivier loop ook vol riool , ek wonder wat is die inpak op die Nyl-vloedvlakte.

Alida ·

Dit is n skande dat na 24 jaar daar sulke drastiese stappe geneem moet word. Ek hoop CR is bewus daarvan. Maak n bottel van daai vrot water by sy kantoor afgelewer word. O ja hy is te besig om stemme te werf! Hou aan om hierdie nikswerd regering onder druk te plaas. Mooi so julle stuur al die verslae na die MR kommissie.

Nikita ·

Dankie Afriforum en aan almal wat hulle hulp gaan aanbied….saam kan ons n verskil maak en die Vaalrivier red!

humor ·

Byna ongelooflik dat daar nog kapitaal vir so n reuse taak kan wees terwyl die regering miljarde rande opslurp en geen vinger verroer nie.

Karma ·

Ek het vandag gesien daar stroom n dik groen stroom rou riool in die storm kanaal langs die N4 in Pretoria. Dit lyk of dit reguit in die bon accord dam of apies rivier gaan in loop. Orals rondom Brits is daar standhoudende strome riool wat reguit in die krokkedilrivier in stroom. Waar rapporteer n mens dit?. Water is belangriker as grond maar dit geniet geen aandag nie. Die natuur gaan nog teen ons draai vir ons daade.

Andrea van Vuren ·

Ek weet verseker dat die rioolvuil in die Krokodilrivier afkomstig van die Diepsloot plakkerskamp. Dié water word in Hartbeespoortdam gestort vandaar die Hiasintgroei wat nooit as te nimmer uitgeroei sal kan word nie want hulle floreer op stikstof afkomstig van riool. So word ons kosbare damme en riviere besoedel en ons kan net mooi niks aan die bevolkinsontploffing en onwettige immigrante doen nie!

Pen ·

Goeie werk en baie dankie vir dit.. kom kyk asb in Kanana woon gebied naby Orkney.. asb daar is ook groot vout daar en ek dink daar moet ook ondersoek ingestel word..

Andrea van Vuren ·

Gaan kyk ook na die Krokodilrivier wat Diepsloot se rioolvuil na Hartbeespoortdam vervoer.

1+1 ·

Deur hierdie aksies hoop ons al hoe meer vurige kole op hul hoofde. Dankie dat hierdie beginsel ook hier toegepas word.

Koos ·

Hoeveel jaar ervaring het Pawson in omgewingsake? Hoeveel skuldigbevindings het AfriForum al behaal waar strafregtelike klagte aanhangig gemaak is?

Nic ·

En jy, Koos, wat se ervaring het jy en wat doen jy om die situasie te beredder of is jy een van die leunstoel meninglugters wat alles en almal afkraak maar self geen positiewe bydrae lewer nie? kry end met jou kritiek en gaan vra liewer wat jy kan doen om te help!

Dis so ·

En so val alles uitmekaar. Basiese dinge soos water en elektrisiteit word nou n luuksheid. Ai ek slaan my oe op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom. My h7lp is van die Here wat hemel en aarde geskape het. En nooit laat vaar die werke van Sy hande.

Denise ·

Walglik die rivier moet in die eerste plek glad nie so vuil gewees het nie SIES die land lyk deesdae soos n ASHOOP !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.