Vaalrivier-watermonsters by Parys positief vir cholera

Rou riool vloei uit die betrokke mangat (Foto: AfriForum)

Watermonsters wat in die Vaalrivier by Parys geneem is, het positief getoets vir cholera.

AfriForum en Save Ngwathe het ’n geakkrediteerde laboratorium versoek om watermonsters op verskillende plekke in Parys onder toesig van ’n waterspesialis te neem.

Die eerste watermonster wat by die uitloop van die rioolwerke geneem is, is nie met cholera besmet nie. Die tweede watermonster wat by ’n woonhuis in Parys geneem is, het negatief getoets vir cholera, maar is wel met E. coli besmet. Die derde watermonster is in die Vaalrivier, ongeveer 10 m stroomaf van ’n mangat wat al ’n geruime tyd riool in die rivier stort, geneem. Dit is hierdie einste watermonster wat met cholera én E. coli besmet is.

AfriForum wag nog vir die amptelike uitslae, maar die laboratorium het die organisasie reeds in kennis gestel van die resultate weens die erns van die saak.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die onttrekkingspunt vir Vredefort se water slegs 1 km van die rioolstorting af is,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum. “Dit is juis in Vredefort waar daar ook bevestigde gevalle van cholera is en waar ’n inwoner aan dié siekte gesterf het.

“Hierdie inligting bewys verder dat die Vaalrivier wel met cholera besmet is. Daar is verskeie plekke waar die rou riool in die rivier vloei weens infrastruktuur wat uitgebrand het of glad nie beskikbaar is nie, beurtkrag en die kwessie dat daar nie noodbystand soos kragopwekkers of noodpompe is nie.”

Rou riool vloei in die rigting van die Vaalrivier (Foto: AfriForum)

Die departement van water en sanitasie gaan daadwerklik moet ingryp en volgens AfriForum is hy bereid om te help. “Ons het ook reeds aan hulle genoem dat ons bereid is om te help, maar het ongelukkig geen terugvoer ontvang nie,” sê De Klerk.

Karien Viljoen van Save Ngwathe het ’n video by die mangat ter sprake geneem waar dit blyk dat daar selfs bloed by die mangat uitvloei. Die departement en die munisipaliteit is bewus van hierdie mangat wat oorloop.

AfriForum en Save Ngwathe doen ’n beroep op inwoners van al die dorpe in die Ngwathe-metro om nie kraanwater te drink voordat dit gekook is nie. “Ek hoop dat die owerhede en veral die DWS die lewensnoodsaaklikheid van hierdie probleem besef en by die onbevoegde munisipaliteit sal intree. Die hulp wat AfriForum nou al vir die afgelope twee jaar aanbied, word keer op keer geïgnoreer en nou betaal onskuldige mense met hul lewe daarvoor,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Dit het ook hierdie week onder ons aandag gekom dat die raad die tegniese bestuurder wat na die wateraanleg moes omsien, geskors het hangende ’n ondersoek. Daar is niemand wat nou verantwoordelikheid vir hierdie wateraanleg neem nie en dit plaas verdere druk op die munisipaliteit en wek groot kommer by lede van die gemeenskap,” het Pretorius gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Loun ·

Mense wat in 2024 vir die ANC stem moet net duidelik verstaan dat hulle kruisies getrek is langs al hierdie goed, hulle kruisies beteken ja vir dit wat in ons land gebeur, dit is net n jammerte dat die wat nie daarvoor stem ook benadeel word nie….

JvR ·

En iewers, ver hiervandaan, sit n council of >>>>>>, glimlag en se, “we love it when a plan comes together”

Papsak ·

Ja onthou as julle wat vir die anc wil staan en stem moenie huil nie julle kruisie staan langs al hierdie probleme

JohanEtz ·

Oor tien jaar is daar niks meer oor wat die onbevoegtes kan opduiwel nie. Dan sal ons hopelik as SA kan saamstaan om uit die bollie uit te verrys….

CHRISTINE ·

En so is daar elke dag net meer bewyse van die anc se laaste 20 jaar.

kragaap ·

Dog deel van beskawing is om so vêr as moontlik van jou afval te lewe…..die ANC pomp dit in varswater bronne……..

skurweberg ·

“Too little too late” vir die inwoners van SA, maar ook vir hulle wat die fondse het en dit op luukshede bestee het. Haal maar die masker uit. Hierdie krisis het gekom om te bly, omdat hulle steeds soek na die oorspromg van die besoedeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.