Die twee “vuurwapens” wat in die besit van ʼn verdagte gevind is wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn plaasaanval Vrydagoggend buite Vaalwater in Limpopo, is speelgoedgewere.
Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die 33-jarige verdagte is kort ná die aanval op die plaas Sterkfontein vasgetrek. Die 70-jarige Manie van der Merwe is deur vier gewapende verdagtes op die plaas oorval, en hy en sy vrou is in die huis vasgebind en beroof.
Volgens Ngoepe het die verdagtes met vier vuurwapens, juweliersware, ʼn Ford Ranger-bakkie en kontant op die vlug geslaan. Lede van Heritage Protection Group (HPG) en die polisie was vinnig op die toneel om na die aanvallers te soek wat tot een verdagte se inhegtenisneming gelei het.
“Daar is tydens die inhegtenisneming op twee speelgoedgewere en R8 500 kontant beslag gelê,” het Ngoepe gesê.
Die ander verdagtes is steeds op vrye voet. Enigiemand met meer inligting word versoek om ao. Johannes Keyter by 082 565 8637 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.
Die verdagte sal Maandag in die Lephalale-landdroshof verskyn.
Bollie … glo dit nie vir een oomblik, nuwe plan om straf vry te spring.