Vaardige werkers baat ook by Amcu-vredesooreenkoms

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit se eis dat die vredesooreenkoms wat Sibanye Gold onlangs met Amcu gesluit het ook na vaardige werkers uitgebrei moet word, is vandag deur die bestuur van die myn toegestaan.

Dit volg nadat Amcu verlede week namens sy lede ’n ooreenkoms met die maatskappy bereik het waarvolgens werknemers op posvlakke 4 tot 8 bykomende maandelikse vergoeding van R25 elk sal ontvang. Solidariteit het verlede week egter die bestuur van die myn in ʼn skrywe vermaan om die ooreenkoms ook na vaardige werknemers uit te brei. Kragtens vandag se ooreenkoms kwalifiseer werknemers op die vlak van myner, ambagsman en amptenare terugwerkend tot en met Julie 2015 nou ook vir die bykomende vergoeding.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het aan Maroela Media verduidelik die R25 is bo-op die bestaande bykomende vergoeding van R675 in jaar een wat dié bedrag op R700 te staan bring; R25 op jaar twee wat die bykomende vergoeding op R725 te staan bring en R75 in jaar drie, wat die bykomende vergoeding op R800 te staan bring.

Volgens Du Plessis is die toegewing deur Sibanye Gold se bestuur ʼn oorwinning vir kollektiewe bedinging. “Ons was veral besorg oor die presedent wat deur die vredesooreenkoms met Amcu geskep is. Vandag se gesprekke tussen Solidariteit en Sibanye is egter ʼn bewys dat vreedsame en konstruktiewe gesprekke rondom die onderhandelingstafel, eerder as geweld en dreigemente, op ʼn gunstige ooreenkoms kan uitloop,” het hy gesê.

Du Plessis het Amcu voorts bedank omdat hy vandag uiteindelik die onderteken het. “Solidariteit doen ʼn beroep op al die partye in die kollektiewe goudbedingingstrukture om hard aan die verhouding te werk sodat vertroue tussen die partye herstel kan word. Die volhoubaarheid en stabiliteit van die mynbedryf behoort nou almal se prioriteit te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.