Vaardighede in wiskunde, taal ly skade – peiling

Klaskamer_bord_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

’n Meningspeiling deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) wys dat leerders weens die Covid-19-pandemie aansienlike akademiese agterstande toon, ondanks volgehoue pogings om die akademiese skooljaar so normaal moontlik te laat verloop.

Die meerderheid respondente het aangetoon dat hul skool ʼn rooster volg waarvolgens 100% van leerders elke dag onderrig ontvang en dat die betrokke skool in staat was om die volledige voorgeskrewe KABV (Caps)‑kurrikulum verlede jaar te dek. Tog het amper die helfte (45,7%) van respondente aangedui dat leerders ʼn agterstand in veral wiskunde en taal toon.

Dié meningspeiling is onder amper 400 SAOU-lede gedoen ná die aankondiging dat leerders van hoërskole, laerskole en spesiale skole ten volle kan terugkeer skool toe. Die vereiste van sosiale distansiëring van 1 m tussen leerders is ook opgehef. Die departement van onderwys sal na verwagting binnekort die finale direktiewe aangaande die volledige terugkeer na skole uitreik.

Volgens die peiling toon leerders hoofsaaklik agterstande in tale en wiskunde.

Dit blyk dat lees‑ en skryfvaardighede veral skade gely het, asook wiskundige begrip, basiese berekeninge en hoofrekene.

Agterstande word hoofsaaklik deur leerders in die grondslag- en intermediêre fase getoon, veral onder gr. 4-leerders.

Altesame 63% van respondente het wel aangedui dat hul skool ʼn spesiale program vir 2022 beplan om agterstande in te haal. Dié program sal hoofsaaklik op tale en wiskunde toegespits wees.

Die SAOU het die aankondiging dat leerders weer daaglik skool kan bywoon, verwelkom. Altesaam 94% van lede het ook aangedui dat hulle ten gunste van die regering se besluit hieroor is.

“Dit is in die beste belang van onderwys en sal ook verhoed dat verdere agterstande ten opsigte van kurrikulumdekking plaasvind,” lui die SAOU se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Dit is ironies. Die regering het die probleem veroorsaak en het waarskuwings hieroor geïgnoreer want net hulle weet mos alles. Om nou die gemors te probeer regmaak is soos mosterd na die maal. Dit is te laat, die skade is vir die meeste inomkeerbaar.

KB

Eerder nou, as nooit. Dis tyd om ruggraat te toon en al die negatiewes te ignoreer.
Leer daaruit om nie weer so ʼn fout (van terugstaan en toegee) toe te laat nie.

AW

Dankbaar ek het nie kinders op skool nie !!

Pietertjie

Alles het skade gely, behalwe die pandemie self.