Vaarwel, Yoshi!

Yoshi, die karetskilpad toe sy nog in die Twee Oseane-akawarium in Kaapstad was. (Foto: Jean Tresfon)

Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad het bevestig dat die battery van Yoshi die karetskilpad se satellietopsporingskyfie ná drie jaar pap is en dat sy nou op haar eie is.

Renée Leeuwner, woordvoerder van die akwarium, het aan Maroela Media gesê dat hulle in September die laaste sein van Yoshi se opsporingstoestel ontvang het. Dié sein het aangedui dat sy in die La Grange-omgewing van die Eighty Mile-strand in Wes-Australië is.

Die span wat Yoshi se reis gemonitor het, het besluit om eers te wag en sien of daar nog ʼn sein deurkom voordat hulle finaal afskeid neem.

“Ons het geweet dat die dag sou aanbreek dat haar satelliet sy laaste sein stuur en dat ons kontak met haar sou verloor,” sê Leeuwner. “Daardie dag het aangebreek en hoewel ons hartseer is, is dit wonderlik om te weet dat Yoshi se instink haar na ʼn veilige omgewing gelei het.”

‘n Skermgreep uit die video van Yoshi se vrylating twee jaar gelede. Sy is in Desember 2017 ʼn ent van Kaappunt vrygelaat en het sedertdien iets soos 40 011 km afgelê.

Leeuwner verduidelik dat die battery van die opsporingstoestel wat vir Yoshi gebruik is ʼn lewensverwagting ʼn jaar en ʼn half het. Wonder bo wonder het Yoshi se toestel se battery byna die helfte langer gehou.

Maroela Media het vroeër berig dat daar geruime tyd al bespiegel is oor hoe lank die battery nog sou hou. Bewaarders en navorsers in Australië het boonop gereed gestaan om die battery te vervang wanneer dit sou afloop.

Australiese wetenskaplikes het die afgelope maand probeer om Yoshi op te spoor, maar hul pogings was tevergeefs. “Yoshi is nou net nog ʼn karetskilpad wat op haar eie moet aangaan,” sê Leeuwner.

Yoshi se storie het die afgelope drie jaar wêreldwyd opslae gemaak. Sy is in Desember 2017 ʼn ent van Kaappunt vrygelaat en het sedertdien iets soos 40 011 km afgelê.

Yoshi se reis van Suid-Afrika na Wes-Australië. (Grafiek: Twee Oseane-akwarium)

Sedert haar vrylating het sy die Weskus van Suidelike Afrika verken, so ook Robbeneiland, die Skedelkus van Namibië en selfs Angola. Yoshi het êrens langs die pad besluit om om te draai en het stroomop na Wes-Australië geswem.

Die Twee Oseane-akwarium sê Yoshi sal altyd ʼn spesiale plek in hul harte hê. Die akwarium bedank haar volgelinge, aanhangers en die navorsingspanne in Suid-Afrika en Australië sowel as die departement van omgewingsake, bosbou en visserye vir die volgehoue ondersteuning.

“Yoshi was sedert 1997 deel van ons lewe, en nou, as ʼn Australiese burger, kan sy nog vir 60 jaar die oseaan verken en haar vryheid in die natuur geniet.”

Lees alle berigte oor Yoshi die karetskilpad hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dewald ·

Batterylewe van 3 jaar teenoor verwagte leeftyd van een-en-‘n-half jaar is dubbel die leeftyd. Helfte langer sou 2 en ‘n 1/4 jaar gewees het.

JohanR ·

As Julius Malema maar’n battery gehad het soos Yoshi? Ouens daar kom nie meer ‘n sein van Julius se bettery nie…..Vaarwel, Julius!

Einstein ·

Selfs die skilpaaie is keelvol vir hierdie Piesang Republiek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.