Vakansie in Kaapstad? Só kan jy help

Kaapstad (argieffoto) Foto: HPBotha, Pixabay

Op pad na Kaapstad? Reisigers word aangemoedig om die oorblywende deel van hul bagasietoelating te ruil vir water wat van Johannesburg vervoer word.

Gautengers sal vanjaar ʼn droogtegeteisterde Kaapstad teëkom en hul teenwoordigheid sal selfs nog meer druk plaas op die kwynende watertoevoer.

Gautengers word op Vrydag, 15 Desember, aangemoedig om deel te neem aan ʼn sosiale eksperiment en ʼn deel van hul bagasietoelating te verruil vir liters water. Die eksperiment het ook ten doel om bewusmaking te skep oor die behoefte om water uiters spaarsamig in Kaapstad te verbruik.

Kaapstad word deur die ergste droogte in 100 jaar geteister en damvlakke staan op ongeveer 35%. “Dag zero”, wanneer die stad se krane heeltemal opgedroog het, word teen die einde van April 2018 verwag.

Keshin Govender, hoof van kommunikasie vir Siemens Suid- en Oos-Afrika, het gesê die erns van die krisis het die maatskappy aangemoedig om iets te doen. “Gautengers besoek jaarliks Kaapstad vir hul vakansie. As jy in ag neem dat die daaglikse watertoelating per persoon 87 liter beloop, plaas dit ʼn groot bykomende druk op die stad.”

Reisigers kan op 15 Desember by OR Tambo- en Kaapstad Internasionale Lughawe aan dié projek deelneem. Hul bagasie kan by die Siemens AirDrop-stalletjie geweeg word (geleë in die vertreksaal oorkant die selfhelp-inboekstelsel, direk langs die Acsa-inligtingstoonbank by OR Tambo). Enige reisiger wie se bagasie minder is as die vyf (of meer) kilo’s as die gewigbeperking van die betrokke lugredery, kan hul “ongebruikte kilo’s” verruil vir liters water wat namens hulle in Kaapstad afgelewer sal word.

“Ons hoop om binne ure ongeveer 5 000 liter water (5 ton) na die stad te kan vervoer, deur eenvoudig die ongebruikte bagasiekilo’s te gebruik,” het Govender verduidelik. “Dit is dié vindingrykheid wat Siemens ʼn wêreldwye leier maak in intelligente waterbestuur.”

Die roete tussen Johannesburg en Kaapstad is een van die besigste roetes ter wêreld, met meer as 4,4 miljoen passasiers wat jaarliks daarvan gebruik maak. Talle passasiers gebruik nie hul volle bagasietoelating nie (tussen 20 kg en 32 kg, afhangend van die lugredery). Sakereisigers reis soms selfs net met handbagasie, en vakansiegangers reis soms ook lig, om inkopies te doen in Kaapstad.

Passasiers kan dan, met hul aankoms in Kaapstad, hul Johannesburg-water – vry van enige skuldgevoelens, afhaal om tydens hul verblyf te gebruik, of hulle kan dit by die versamelingspunt by Kaapstad Internasionale Lughawe los. Die AirdDrop-stalletjie sal geleë wees in die aankomssaal, oorkant Woolworths. Water wat nie afgehaal word nie, sal aan Gift of the Givers geskenk word.

“Die Siemens AirDrop wys die konstante behoefte aan nuwe en innoverende oplossings. Ons kan slegs deur vernuwing die beperkings van ons verkwistende en outydse metodes oorkom. AirDrop is ʼn voorbeeld van wat gedoen kan word as ons hierdie tipe denke toepas op alle bedrywe in die land,” het Govender gesê. Siemens het verskeie intelligente stelsels in die waterbedryf wat energie beter gebruik, onnodige waterverliese voorkom en die verbruik van die hulpbronne minimaliseer.

Govender meen die #SiemensAirDrop is ʼn goeie voorbeeld van hoe Suid-Afrikaners iets vir hul medeburgers kan doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Koos ·

Brei asb uit na Lanseria! En vir die16de. Baie vlieg op die vakansiedag!

koos ·

Ek weet die idee klink op die oog af goed en ek weet elk bietjie help. Maar 6800, 5kg bottels maak een vrag op vir ‘n trok om water te neem na Kaapstad. Wel enige publisiteit is goeie publisiteit.

Dawie Dreyer ·

Ek verstaan dit nie dat ons nou die mooi Kaap so moet besoedel om ‘n klomp plastiek kanne op hulle af te laai. Wat doen jy met die kanne wanneer dit leeg is? Waar is die Weermag met hul groot vragmotor tenkers of die spoorwee met al die tenkers wat partykeer leeg loop? Neem water Kaap toe en gooi dit in die reservoirs. Ons kan miskien ‘n bydrae maak sodat hulle brandstof het om die water te vervoer. Moet nie die Kaap besoedel nie…

Alida ·

Gaan dit net vir die een dag geld? Kan dit nie maar vir alle vlugte na Kaapstad geld nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.