Vakansie: Mensehandel nié ʼn mite

Argieffoto

Oor die feesseisoen wanneer duisende mense na strande, vakansiebestemmings en winkelsentrums stroom, is dit nie ongewoon dat kinders in die harwar van hul ouers geskei raak nie. Dit is egter juis in dié tyd wat ouers waaksamer as ooit moet wees.

Nedine Blom, prokureur, sangeres en kenner in mensehandel, waarsku dat plaaslike mensehandelsindikate munt slaan uit die feit dat talle Suid-Afrikaners glo mensehandel gebeur net in ander lande en met ander mense se kinders.

“Ons wéét sindikate is dié tyd van die jaar op strande en in winkelsentrums,” sê Blom. Sy sê ʼn mens wil nie onnodig vrees by mense inboesem nie, maar waarsku dat kinders soms letterlik uit ʼn ouer se arms gegryp word.

Blom sê mensehandelaars deurkruis soms plekke soos winkelsentrums of strande op soek na ʼn spesifieke kind vir ʼn spesifieke kliënt – en gewone middelklaskinders is beslis nie hierteen gevrywaar nie. “Enigiemand is ʼn moontlike slagoffer,” maan sy.

Sy sê ouers moet hulle kinders leer om byvoorbeeld by ʼn kassier of ʼn veiligheidswag te gaan aanmeld wanneer hulle in ʼn winkelsentrum afdwaal.

Gordel kinders vas in hulle stootwaentjies of in die winkeltrollie wanneer jy inkopies doen (of beter nog, laat hulle tuisbly onder behoorlike toesig) en moenie toelaat dat jou aandag afgelei word nie. Sy sê mensehandelaars gryp soms ʼn kind en versteek hom in ʼn leë babawaentjie voordat enigiemand iets gesien het.

Sy waarsku dat kinders dikwels verkoop word vir groot geld – soms sodat hulle liggaamsdele vir moetie gebruik kan word, soms om hulle organe in die hande te kry, vir sataniese rituele, die seksbedryf of net om ʼn losprys van die familie te eis. Die vervaardiging van kinderpornografie is ʼn enorme, internasionale bedryf en kinders beland maklik in dié strik. Kinders word boonop maklik oor landsgrense gesmokkel.

Argieffoto: Pixabay

Bly kalm

Blom raai ouers aan om ʼn foto van hulle kinders te neem voordat hulle op ʼn uitstappie vertrek. Op dié manier weet almal presies wat die kind aan het as hy of sy dalk wegraak. Paniek kan ʼn mens se brein laat vries, en ʼn foto kan onnodige verwarring help uitskakel.

Moet egter nie kinders se name op klere, sakke of selfs hulle arms skryf nie – dis dan selfs makliker vir boosdoeners om kinders se vertroue te wen as hulle die kinders se name ken.

Blom sê daar is geen wetgewing wat bepaal dat iemand eers ná 48 uur as vermis aangegee kan word nie – inteendeel, die eerste vyf ure nadat iemand verdwyn het, die sogenaamde goue ure, is dikwels deurslaggewend. “Hoe vinniger dit gerapporteer word, hoe groter is die kans dat iemand teruggekry word,” sê Blom.

Wanneer jy vermoed dat jou kind gesteel is, meld dit onmiddellik by die polisie aan en kry ʼn saaknommer. Kontak ook organisasies soos The Pink Ladies en die SA Human Trafficking Resource Line om te help soek.

Virtuele wêreld, ware gevaar

“Ons kinders lewe en speel in ʼn aanlynwêreld,” sê Blom. Juis daarom moet ouers ook ekstra waaksaam wees oor waarmee – en met wie – hulle kinders aanlyn besig is.

Blom sê apps soos OurPact laat ouers toe om te sien wat op hulle kinders se fone aangaan. Dit kan kinders se ligging monitor en jy kan self kyk met watter aktiwiteite jou kind besig is. Soms is kinders oneerlik oor met wie hulle aanlyn gesels en dit kan hulle later in ʼn benarde situasie laat beland. Práát dus met jou kinders.

Blom sê ouers is uiteindelik self verantwoordelik vir die veiligheid van hulle kinders. “Ons as ouers het ʼn plig om ons kinders te beskerm en op te pas. Dis ouers se verantwoordelikheid. Jy kan nie meer jou kinders onder jou oë laat uitgaan nie,” sê Blom.

Kontakbesonderhede:

Polisie se noodnommer: 10111
SA Human Trafficking Resource Line: 0800 222 777
The Pink Ladies: thepinkladiesza.weebly.com / 072 214 7439 of 083 378 4882 / [email protected] of [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.