Vakansie ontaard in tragedie toe pa, verloofde verdrink

Jenney Griesel saam met haar verloofde Colin Schreuder (Foto: Facebook)

ʼn Gesin van Sasolburg in die Vrystaat se vakansie het in ʼn tragedie ontaard toe twee lede van die groep verdrink het.

Johann Griessel (56) het Sondag saam met sy vrou, Charissa, sy dogter, Jenney (26), en haar verloofde, Colin Schreuder (33), in Umzumbe naby Hibberdene aan die KwaZulu-Natalse suidkus aangekom.

Colin en Jenney se vierjarige seun en Colin se twee kinders uit ʼn vorige verhouding was ook saam met vakansie.

Volgens Marlene Drotskie, sekretaresse van die Sasolburg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die gesin Dinsdag by die Umzumbe-strand geswem toe die tragedie plaasgevind het.

Jenny en haar pa het in die moeilikheid beland toe hulle deur ʼn sleurstroom meegesleur is. Colin het ingegaan om te help en het self in die moeilikheid beland.

Johann Griessel (Foto: Facebook)

Volgens Ruahn Beattie, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Shelley Beach, is hulle omstreeks 16:20 na die strand ontbied.

Lewensredders van Simunye Lifeguard Services het Jenney en haar pa en verloofde uit die see gehaal, sowat 800 m van die kus af, en na die strand geneem.

Daar is gepoog om die twee mans by te bring, maar hulle is op die strand dood verklaar. Jenney is ná die voorval in ʼn hospitaal opgeneem en dieselfde aand nog ontslaan.

Johann was stigterslid en voorsitter van die Sasolburg-GPF en Charissa werk as skakelbeampte vir die GPF.

Jenney en Colin was die afgelope vier jaar verloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net ·

Dis so hartseer. Baie sterkte aan al die familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.