Vakansieganger verdrink by Ballito

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Vakansieganger het Vrydagmiddag in die see by Ballito in KwaZulu-Natal verdrink.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê die man het naby Granny’s Pool geswem toe hy in die moeilikheid beland het.

“Omstanders het in die water gespring en hom na die strand gebring,” het Jamieson gesê.

Kwadukuza-lewensredders het noodhulp toegepas totdat paramedici van IPSS Medical Rescue en Netcare 911 by hulle oorgeneem het.

“Ten spyte van paramedici se volgehoue pogings om die man by te bring, is hy op die toneel dood verklaar.”

Jamieson het ʼn beroep op die publiek gedoen om ag te slaan op springgety-waarskuwings van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), veral vir die volgende vyf dae as gevolg van die volmaan.

Springgety vind twee keer per maand plaas, tydens volmaan en nuwemaan, en die hooggety is hoër as gewoonlik en die laaggety laer as gewoonlik met sterker sleurstrome. Daar is daagliks twee hooggetye en twee laaggetye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vakansie ganger ·

Ek swem met inkomende gety en nie met uitgaande. Met uitgaande trek die see terug en trek jou in maw as jy van hoogwater oppad laag toe swem. Myns insiens is dat laag water die gevaarlikste is om te swem….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.