ʼn 20-jarige man van Gauteng word vermis nadat hy by die hoofstrand in Jeffreysbaai onder die water verdwyn het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.
“Die man het Dinsdagaand omstreeks 18:30 vermoedelik in ʼn systroom beland,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. “ʼn Branderplankryer het die man te hulp gesnel, maar hy het reeds onder die water verdwyn voor die brandplankryer hom kon bereik.”
Lambinon sê ondanks ʼn omvattende soektog is daar nog geen teken van die man nie. Die span van NSRI was om middernag nog steeds besig met die soektog al langs die kus.
Die polisie se duikeenheid sal Woensdag by die soektog aansluit.
“Traumaberaders staan die vermiste man se gesin by,” het hy bygevoeg. “Die polisie ondersoek die voorval.”