Vakansiegangers ernstig beseer ná see hul meesleur

Foto: AMS

Foto: AMS

Twee mans van Vanderbijlpark in Gauteng is ernstig beseer nadat hulle Sondag in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap deur die see meegesleur is terwyl hulle besig was om foto’s te neem.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) was die twee mans, onderskeidelik 39 en 34 jaar oud, omstreeks 14:00 op ’n staproete in die Robberg Natuurreservaat toe hulle deur golwe van die rotse af geslaan is.

“Die 39-jarige man het by Blaasgat opgeloop om foto’s te neem toe hy van die rotse af geslaan is. Die 34-jarige het agter sy vriend aan in die water ingespring om hom te probeer help, maar is deur die onstuimige water meegesleur,” het die NSRI gesê.

Die 39-jarige man kon daarin slaag om homself teen die rotse uit die water te trek, maar kon nie meer sy vriend sien nie en het vermoed hy het moontlik verdrink. Hy het na die strand gekruip waar hy ʼn groep stappers gevind en om hulp gevra het.

Soos die geluk dit wou hê, het ʼn voormalige-NSRI personeellid, dr. Herman Nel, op die toneel afgekom en dadelik noodbehandeling op die man toegepas. Hy het verskeie snywonde en kneusplekke aan sy lyf, arms en bene opgedoen en vermoedelik frakture aan sy regterarm en been.

Nel het daarna hulp ontbied van die NSRI se Plettenbergbaai-tak en intussen saam met ʼn vriend die 34-jarige man gaan soek. Hy is in ʼn sloot tussen die rotse gevind waar die water hom teen die rotse geslaan het. Die man het verskeie snywonde, kneusplekke en ʼn kopbesering opgedoen en sy ruggraat is vermoedelik gebreek. Nel en sy vriend kon daarin slaag om die man uit die water te trek.

Die Plettenbergbaai-reddingspan het by die toneel opgedaag en die man op ʼn draagbaar geplaas en na hoërliggende grond geneem. ʼn Helikopter het die man uit die rotse gelig en na ʼn hospitaal in George vervoer waar hy geopereer is.

Die 39-jarige man is per ambulans na ʼn hospitaal in Plettenbergbaai vervoer en van daar af na ʼn hospitaal in George oorgeplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Ek hoop nie sy beserings is so ergs soos wat vermoed word nie. Ek bid julle altwee sterkte en genesing toe!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.