Vakansiegangers gewaarsku ná verdrinkings

Polisiebeamptes op die toneel van ʼn verdrinking in die Oos-Kaap. Foto: SAPD

Die Oos-Kaapse polisie het ʼn waarskuwing aan vakansiegangers gerig om uiters waaksaam op strande of rondom swembaddens te wees ná verskeie verdrinkings in die provinsie dié feesseisoen.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, het gesê die publiek word gewaarsku om nie alkohol te drink en daarna te swem nie, omdat dit tot verdere lewensverlies kan lei.

Tonjeni het gesê twee vroue, onderskeidelik 20 en 22 jaar oud, het Dinsdag verdrink terwyl hulle by Qolora by Sea by Centane in die Amatole-munisipaliteitsdistrik geswem het. Albei vroue se naasbestaandes is reeds van hul dood ingelig en die polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek.

In nog ʼn voorval het ʼn man van Port Elizabeth, vermoedelik in sy 20’s, op 24 Desember by die Kariega-riviermond verdrink.

Daar is tans ook ʼn soektog aan die gang na ʼn 12-jarige seun wat in die see naby Qolora by Sea vermis geraak het. “Die seun is die laaste keer gesien terwyl hy besig was om te swem en ʼn brander oor hom geslaan het. Sy ouers, vriende, familie en die polisie se K9-eenheid help met die soektog na die seun,” het Tonjeni gesê.

Hy het gesê die polisie het hul sigbaarheid op strande in Oos-Londen, Port Alfred en Port St. Johns verhoog en beamptes op perde patrolleer hierdie gebiede. Die beamptes maan gemeenskappe om kinders dop te hou terwyl hulle swem en waarsku volwassenes oor die gevare daarvan om onder die invloed van alkohol te swem.

“Die polisie is oortuig daarvan dat indien lede van die publiek beter na kinders kyk terwyl hulle swem en self uit die water bly wanneer hulle dronk is, kan baie verdrinkings vermy word,” het Tonjeni gesê. “Ons doen ʼn beroep op ouers om deurlopend met hul kinders te praat en hulle bewus te maak van moontlike gevare in die water.”

Tonjeni het ook van die geleentheid gebruik gemaak om besoekers aan strande te waarsku om nie persoonlike items soos selfone, beursies en voertuigsleutels, onbewaak te laat nie, aangesien opportunistiese misdadigers van sulke geleentheid gebruik kan maak om toe te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Dankie Tonjeni vir jou eerlike en openlike vermaning. Ja-nee, drank en water meng net in ‘n glas maar in die persoon meng die mengsel nie wéér ‘n keer met water.
Die derde laaste par. se laaste sin moet eintlik lui: ‘ . . . onder die invloed van alkohol te PROBEER swem.’ Ons het ‘n onderwyser gehad wat, wanneer jy nie ‘n vraag kan antwoord, jou beskryf het met ‘Jy swem soos ‘n klip en duik soos ‘n kurkprop’. Dis presies wat ook gaan gebeur met dop in die kop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.