Vakansiegangers reis goedkoper huis toe

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Motoriste wat nog nie ná die Desembervakansie huiswaarts gekeer het nie, se terugreis gaan heelwat goedkoper wees.

Die departement van energie het die amptelike verandering in die brandstofpryse vir Januarie bekendgemaak en sê petrol sowel as diesel sal aansienlik minder kos.

Albei grade petrol daal met meer as ʼn rand – 93 oktaan met R1,22 en 95 oktaan met R1,23 per liter – terwyl die groothandelprys van diesel selfs meer sal daal, met tussen R1,54 en R1,56 per liter.

Paraffien se kleinhandelprys daal ook skerp met R1,64.

Intussen tree ʼn daling in brandstofpryse ook Woensdag in Namibië in werking, maar die pryse daal minder skerp as in Suid-Afrika. Die prys van 95 oktaan loodvrye petrol daal met 90c per liter en alle grade diesel met N$1 per liter.

Die nuwe pompprys op Walvisbaai sal N$12,05 per liter vir 95-oktaan-petrol, N$13,08 vir ʼn liter 500 ppm- en N$13,13 per liter 50 ppm-diesel wees. Die pryse in die binneland van Namibië sal dienooreenkomstig aangepas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.