Vakbond begin nuwe politieke party

Irvin Jim Foto: @the_new_age op Twitter

Irvin Jim Foto: @the_new_age op Twitter

Die vakbond Numsa het Donderdag aangekondig hy gaan ʼn nuwe politieke party vir werkers op die been bring.

“Die werkersklas benodig sy eie politieke party,” het Irvin Jim, uitvoerende hoof van die vakbond, in Johannesburg gesê. “Die werkersklas is leierloos.”

Die party sal intussen as die United Front bekend staan en die naam sal binne die volgende jaar gefinaliseer word. Jim het verslaggewers tydens ʼn vier dag lange vergadering van die National Union of Metalworkers of SA se sentrale komitee toegespreek.

Hy sê werkers is nie haastig om parlement toe te gaan nie, en is nie opportunisties deur die nuwe party te stig nie. “Daar is nie meer terugkeer nie. Ons sal ons tyd vat en in die politiek opgelei word. Ons sal na Latyns-Amerika reis om te leer hoe om die behoeftes van die werkersklas aan te spreek.”

Karl Cloete, adjunk uitvoerende hoof van die vakbond, het gesê die nuwe party sal in 2016 aan die plaaslike verkiesing deelneem indien die party in die posisie is om dit te doen. “Ons wil nie ʼn miljoen stemme hê nie, ons wil nie minder hê nie… die werkersklas moet die mag hê,” het Cloete gesê.

Numsa, wat vroeër besluit het om nie die ANC tydens vanjaar se algemene verkiesing te ondersteun nie, het gesê die afname in die party se ondersteuning beteken dat werkers ʼn alternatief soek.

Numsa het ook gesê hy ondersoek die moontlikheid om ʼn nuwe onafhanklike vakbondfederasie op die been te bring. Numsa is tans deel van die Congress of SA Trade Unions (Cosatu). Numsa sal ander federasies soos die Nasionale Raad van Vakbonde, die Federasie van Vakbonde van Suid-Afrika en ander onafhanklike geregistreerde vakbonde nader, het Cloete gesê.

Numsa en agt ander filiale van Cosatu het onlangs Zwelinzima Vavi gesteun in sy hofsaak nadat Cosatu hom as uitvoerende hoof geskors het. Die hof het sy aansoek goedgekeur. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marlene ·

Alvorens Irvin begin met ‘n nuwe politieke party moet hy dit ernstig oorweeg om by ‘n ortodontis ‘n draai te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.