Vakbond bepleit dat Spoorwegpolisie heringestel word

Argieffoto

Argieffoto

As die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die drastiese toename in geweldsmisdade by treinstasies met erns wil hokslaan, sal die Spoorwegpolisie soos wat hy bestaan het voordat hy by die polisie ingelyf is in 1986, heringestel moet word.

“Dit is die enigste manier hoe die SAPD sal voorkom dat meer mense by ons treinstasies sterf,” het Steve Harris, hoofsekretaris van die United National Transport Union (Untu), gesê. “Ons het toegewyde Spoorwegpolisielede nodig wat permanent by treinstasies en op treine geplaas word en vir wie dit ʼn prioriteit is om die misdaad te beveg.”

Harris het gesê twee van die vakbond se werksplekverteenwoordigers is verlede week aangeval en beroof by die Salt River-stasie op die ou hoofroete tussen Kaapstad en Bellville. Mandilake Qhunyana is beroof en met ʼn skerp voorwerp gesteek op ʼn trein tussen Salt River en die Woodstock-stasie. Volgens Qhunyana was daar geen sekuriteit op die trein tydens die voorval nie. Sadia Jacobs is by die Salt Rivier-stasie van haar selfoon beroof. Albei verteenwoordigers is erg getraumatiseerd deur die geweldsmisdade.

Volgens Harris is die twee persone in aparte voorvalle aangeval dae nadat Untu se lede moes hoor dat ʼn gewapende veiligheidswag (33) van Comwezi Security deur twee gewapende mans in die kop geskiet is terwyl hulle Maandag besig wat om die sentrale lyn tussen Heideveld en Nyanga naby Thambo Village saam met ʼn vroulike kollega te patrolleer om te verseker dat seinbokse nie gesteel word nie. Die rowers is vort met die twee wagte se vuurwapens. Nog niemand is weens die voorval aangekeer nie.

Die treindrywer Pieter Barend (Piet) Botha is twee weke gelede twee keer in die kop geskiet toe rowers hom aangeval het by die Netreg-stasie ʼn paar kilometer verder. Brian Davids, voltydse uitvoerende raadslid van Untu, het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) gewaarsku dat die sentrale lyn tussen Langa, Chris Hani en Kapteinsklip toenemend gevaarlik word en deur die maatskappy gesluit sal moet word as dit nie beveilig kan word nie.

Intussen was pendelaars in Gauteng gestrand toe hulle van Vereeniging en Westonaria via Midway na Johannesburg gereis het, het Sonja Carstens, woordvoerder van Untu, bygevoeg. “Gewelddadige diensleweringsbetogings het Woensdag in die Kliptown-gemeenskap in Soweto uitgebreek. Klippe en brandende motorbande is op die spoorlyne geplaas en die treine is met klippe bestook.”

Teen Vrydag het Prasa toegegee dat hy nie in staat is om geweldsmidaad by Suid-Afrika se stasies alleen te bestry nie.

“Prasa het toegegee hy het ʼn plig om ʼn veilige werksomgewing te verskaf, maar het gesê hy is afhanklik van ander wetstoepassers om sy hande in die stryd te vat. Harris het gesê die vakbond stem saam.

“Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het vroeër in ʼn verslag die inlywing van die Spoorwegpolisie by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in 1986 beskryf as ʼn uitstekende voorbeeld van hoe dit bygedra het dat plaaslike misdaad en dienslewerings prioriteite afgeskeep word,” het Harris bygevoeg. “Die inlywing het gepaardgegaan met beloftes van ʼn vergrote SAPD waarin meer aandag gegee sou word aan die spoorwegsektor, sy eiendom, sy personeel en passasiers. In die jare wat gevolg het, het die teenoorgestelde gebeur.” Die situasie het so agteruitgegaan dat die spoorwegsektor private veiligheidsmaatskappye moes aanstel. Dit was eers in 2003 dat ʼn toegewyde eenheid vir spoorweg verwante misdaad in die polisie geskep is, aldus die ISS-verslag.

Harris het gesê die toegewyde spoorwegeenheid in die polisie is nie doeltreffend genoeg om geweldsmisdaad te bekamp nie. Dit is moeilik om die presiese omvang van die probleem te bepaal omdat geen aparte misdaadstatistiek daarvoor gehou word nie.

“Untu sou graag wou gesien het dat die SAPD planne bekendmaak oor hoe veiligheidsmaatreëls by treinstasies verskerp gaan word. Dit is nie eens Donderdag in die polisie se persverklaring genoem nie, waarin daar gespog is met die 3 641 polisiekonstabels wat op seremonies in Athlone in die Wes-Kaap en in Pretoria, Gauteng uitgepasseer het.

“Die SAPD het beloof dat die polisielede sal help om sigbare polisiëring te verbeter en vinniger op klagtes te reageer. Hulle sal in die Wes-Kaap ook geplaas word op plekke wat die polisie as prioriteitsgebied beskou. Untu meen die treinstasies behoort een van hierdie prioriteitsgebiede te wees,” het Harris bygevoeg.

Volgens hom ondersteun Siyabonga Gama, hoofbestuurder van Transnet, en die Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa) sy pleidooi. Gama kla dat Transnet worstel met sy dienslewering weens kabeldiefstal.

Untu sal nou met die hulp van Fedusa die adjunk-president nader om te reël vir ʼn dringende vergadering wat die ministers van openbare ondernemings, van vervoer, van finansies en die polisie sal insluit om met die vakbond, Transnet en Fedusa te vergader om te die herinstelling van die Spoorwegpolisie te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grap ·

Dit was die grootste fout wat voete was vlok ooit gemaak het om die spoorweg polisie en die sap een departement te maak die sekuriteit by stasies het so verval en die rippel effek daarvan kan gesien word in die hoeveelheid trokke op sa paaie vragte wat met spoornetwerk vervoer moes word en nie gepraat van misdaad wat na die ontbinding in 1986 toegeneem het

pieter ·

Briljante idee het briljant gewerk vroeer jare en publiek sal veiliger voel op stasies

Sannie ·

Vrydag n week terug, op Bellville stasie, het 2 kleurling mans en n vrou n mes teen my susterskind se keel gedruk en sy selfoon geeis. Niemand om toesig te hou en kyk dat so iets nie gebeur nie.

lynette ·

Jammer mense, dis nou te laat om dit te doen. Vroeer het mense respek vir polisie gehad en het dit gewerk. Die land het so verval en gewapende misdaad toegeneem dat al wat nou gaan gebeur is dat die polisiemanne op stasies en treine net geteiken gaan word en vermoor word terwille van hulle wapens. Die misdadigers het geen respek vir lewe of vrees vir nagevolge want daar is GEEN nagevolge nie. Al wat wel sal help is n nuwe regering wat doodstraf herinstel en dit toepas!!!! Wat dink julle is ons kans daarvoor¿

Eliza-beth ·

Stem ook vir dit. Wou laas Des so graag met die kuslangs trein ry vanaf Kaapstad tot by Kalkbaai en lekker eet en weer terug net vir pret, maar is so oor en oor gewaarsku om dit nie te waag nie. Liewe aarde dis ‘n lieflike toeriste aantreklikheid om so iets te doen maar nee, nou kan ons nie ons eie publieke vervoer gebruik want jy kan aangeval word. Bring terug die spoorwegpolisie!

Johannes Meintjes ·

Ek sal ook ‘n ja stem uitbring by hierdie voorstel. Stel weer die Spoorwegpolisie en die Kommandos met nodige opleiding en magte in. Dit kan ook ‘n nuwe 2 jaar diensplig akkommodeer om weer dissipline en verantwoordelikheid by ons jeug en ons vervalle gemeenskappe te hervestig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.