Vakbond beskuldig DKD dat hy hof minag

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Die onregmatige aanstellings wat die departement van korrektiewe dienste (DKD) tydens die eerste kwartaal van 2014 gemaak het, is teenstrydig met ’n vroeëre hofbevel deur die arbeidshof in Kaapstad en kom neer op minagting van die hof, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Volgens Solidariteit het die DKD reeds teen April vanjaar ongeveer 121 werknemers in sewe verskillende provinsies aangestel, ten spyte daarvan dat hy nog nie sy regstellendeaksieplan gewysig het soos deur die hof beveel is nie. Die DKD ontken dat hy enige aanstellings in die Wes-Kaap gemaak het.

Kragtens die hofbevel mag die DKD nie slegs die nasionale rassedemografie in ag neem tydens die aanstelling en bevordering van werknemers nie en moet die streek se demografie ook oorweeg word.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het die DKD wel onderneem om ’n ondersoek na die genoemde aanstellings in sewe provinsies te doen en om, indien die aanstellings teenstrydig met die arbeidshof se vroeëre hofbevel is, die aanstellings te skrap.

“Uit die inligting tot ons beskikking is dit duidelik dat die DKD besluit het om die hofbevel slegs in die Wes-Kaap te eerbiedig en voortgegaan het om aanstellings op grond van die nasionale rassedemografie in die ander provinsies te maak. Ons is daarom van mening dat die DKD nie gehoor gegee het aan ’n hofbevel nie, wat op minagting van die hof neerkom.”

Groenewald sê die departement het intussen tydens ’n vergadering vroeër die week aan Solidariteit gesê dat hy wel ’n interne beleid opgestel het waarin sy nuwe regstellendeaksieplan in ooreenstemming met die hofbevel is.

“Die eerste weergawe van die genoemde dokument is glo aan die nasionale kommissaris oorhandig en die departement wag nog op sy goedkeuring en insette. Solidariteit het vroeër aangebied om ook ’n bydrae tot die formulering van die beleid te lewer, maar dié aanbod is deur die DKD van die hand gewys. Intussen is 200 poste in die Wes-Kaap hangende die formulering van die beleid gevries en ly dienslewering onder meer daaronder, ten spyte daarvan dat die DKD reeds sedert 6 Februarie 2014 bewus is van die uitspraak,” verduidelik Groenewald.

Solidariteit wag tans vir bevestiging van die DKD oor hoeveel aanstellings in die ander provinsies gemaak is en wat die departement daaraan gaan doen. Afhangende van die departement se terugvoering sal Solidariteit die moontlikheid oorweeg om met die aansoek oor minagting van die hof voort te gaan.

Die arbeidshof in die Wes-Kaap het in Februarie vanjaar ’n vorige hofbeslissing van die arbeidshof bekragtig en beveel dat dit in werking gestel moet word, hangende die afhandeling van die appèl wat deur beide partye aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.