Vakbond eis antwoorde oor Denel-werkers se toekoms

Die vakbond Uasa eis antwoorde van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, oor die toekoms van Denel se werkers hangende ʼn aansoek om die sukkelende wapenvervaardiger te laat likwideer.

Die aansoek word na verwagting op 11 Oktober in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.

Uasa sê sy lede het sedert Augustus verlede jaar nog nie hul uitstaande salarisse van die staatsbeheerde onderneming (SBO) ontvang nie, ten spyte van ʼn bevel van die arbeidshof dat Denel die werkers moet vergoed.

Sou die aansoek om likwidasie toegestaan word, sal dit “die doodsklok lui vir duisende werksgeleenthede, gevolg deur die verwoestende sosio-ekonomiese uitwerking van werkloosheid”, sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

Uasa en sy sambreelliggaam Fedusa wil nou by Gordhan weet of die staat, as die alleenaandeelhouer van Denel, die aansoek om likwidasie gaan teenstaan, en of Denel se werkers hul volle uitstaande salarisse betaal gaan word.

“Gaan die departement aan Denel dieselfde of soortgelyke finansiële en reddingshulp gee wat hy aan ander SBO’s – soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens – gegee het?” vra Moyo.

Sy sê Uasa is geskok oor hoe vrotsig die regering die situasie by Denel hanteer het, ten spyte van die ooglopend negatiewe uitwerking wat dit op die inkomste van werkers het.

“Dit is nie hoe ʼn regering of ʼn SBO sy mede-Suid-Afrikaners moet behandel nie.”

Denel se werkers is nou al maande lank geduldig, maar die bestuur is nie besig om die situasie te verbeter nie, sê sy.

“Pleks daarvan staar likwidasie die maatskappy in die gesig sonder dat ʼn woord gerep word oor die uitstaande salarisse wat aan ons lede en ander werkers geskuld word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

En so stort die een na die ander staatsbeheerde liggaam in duie onder die onbevoegde ANC.

Nie Verbaas

Likwideer, Suid Afrikaners kan nie aanhou betaal vir ANC se mislukkings nie.

JohanR

Die ANC het nie eers geld om maand op maand hulle eie werkers te betaal nie. Dink nie hulle gedagtes is by Denel nie!

annie

Denel verskaf wapens aan die verkeerde mense. Die sluiting sal ‘n sosio-ekonomiese ramp veroorsaak… ‘n tsoenami van ekwatoriale proporsie… Maak Denel nou ook atoombomme? Die spul sit net. En hulle kerm oor geld. Hul kennis is onmisbaar vir die mensdom. Wow! Kry dr Mkize. Hy soek dalk ‘n uitlaatkleppie vir sy talente.

Barney

Wat is daar om te eis? Denel is bankrot. Lag my sokkies af.