Vakbond eis veiligheidswagte vir treindrywers

Argieffoto

Argieffoto

Die United National Transport Union (Untu) het Donderdag die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) versoek om dringend óf veiligheid vir treindrywers op te skerp of alle treindienste in Pretoria op te skort waar personeellede “geteiken” word.

“Een van ons lede, ʼn treindrywer, is op 21 Desember naby Akasiaboomstasie in Pretoria aangeval,” het Steve Harris, algemene sekretaris van die vakbond, in ʼn verklaring gesê. “Sy trein is verhoed om die stasie binne te kom, aangesien ʼn ander trein daar parkeer gestaan het, ʼn probleem waaroor hy geen beheer gehad het nie. Sy aanvallers het ʼn vuurwapen in sy gesig gedruk en die sneller getrek. Toe die vuurwapen nie wou afgaan nie, het hulle hom verskeie kere met die vuurwapen se agterkant in die gesig geslaan en hy het ernstige gesigbeserings opgedoen.”

Volgens Harris was daar ook ʼn tweede aanval op Oukersdag by Winternest-treinstasie. “Die besonderhede oor dié voorval is nog nie duidelik nie,” het Harris gesê.

Volgens hom het die vakbond ʼn boodskap aan sy lede gestuur om te sê dat hulle kan weier om te werk weens ʼn gebrek aan veiligheid.

“Werkers het ʼn internasionaal erkende reg om in ʼn veilige werksomgewing te werk,” het Harris benadruk. “Prasa gee nie die beskerming aan sy werknemers soos hulle belowe het nie, en wat nog erger is, is dat Prasa ook nie dringend daaraan aandag gee nie, glo weens probleme binne die begroting. Mondelingse versekering deur die bestuur dat die probleem volgende jaar bespreek gaan word, is van geen waarde vir werknemers wie se lewe daagliks bedreig word nie. Prasa se begrotingsverskonings is onsin. Die maatskappy maak bloot nie voorsiening vir sy mense om aan hulle die veiligheidsondersteuning te bied wat hulle benodig nie.”

Harris het gesê die staatsbeheerde entiteit moet sy prioriteite herevalueer. “Prasa het R38 miljard vir nuwe lokomotiewe wat nie op sy stelsel pas nie, waarom kan ʼn paar honderd rand dan nie opsygesit word om sy treine toe te rus met die veiligheidspersoneel wat hy belowe het nie? Sal ʼn maatskappy wat vir sy werknemers omgee, verwag dat daardie personeel, wat getraumatiseerd is, terugkeer werk toe vir die volgende skof asof niks gebeur het nie?” wou hy weet.

Die vakbond het gesê pendelaars het ook ʼn verantwoordelikheid om seker te maak dat misdadigers wat die treinbeamptes dreig, aangekeer word.

Maroela Media wag vir terugvoer van Prasa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris W ·

Ek se die treine moet stil staan vir ‘n week dat die gebruikers daarvan kan wakker gemaak word oor wat aangaan.Dan sal hulle self die boosdoeners uitsorteer in die toekoms.

Alete Muller ·

My huishulp was met die trein huistoe in die Oos Kaap, juis agv al die padongelukke waar taxi’s betrokke is. Sy sê nooit weer nie. Die mense is rot en kaal besteel op die trein terwyl hulle geslaap het.

Pieter.v ·

Voorheen het die spoorwee hul eie polisie gehad en ek dink dit heel goed gewerk ,

Chrisp ·

Daar is ook ‘n ander sektor(landbou)waar dit baie erger gaan.
Begin eers met die boere,of ondersteun die beveiliging van hulle .Ek dink egter daar sal nie hiervan gepraat word nie.Hulle word eerder verhoed om dit self te doen.

Chris W ·

Ons het twee baie goeie polisie beamptes by ons plaaslike polisiestasie wat alles doen om boere te help.MAAR hulle stasie het 2 bakkies om die hele omgewing en dorp te patrolleer EN hulle is sowat 20 polisie lede ONDER STAF vir die GPF storie.Dan in sekere sektore stel min boere (minder as 30%) belang in die GPF (plaaswag) stelsel wat hulle twee op die been probeer bring nou wat nou gemaak?Dis nou letterlik ‘n geval van elkeen moet maar sorg dat hy en sy gesin paraat is vir aanvalle.Pateties!

Johannes Meintjes ·

Totdat hoge en belangrike ampte en amptenare in kerk en regering nie effektief skakel met plaaslike regering en die mense op grondvlak, d.m.v. gekikde staatsadministrasie meganismes en burgerlike deelname, bly die gaping tussen topvlakke en die grondvlakke eenvourdig te groot. Die “Wilde Weste” sindroom veroorsaak deur visielose swak regering, die afwesige of self-gerigde kerk, algemene wanaanwending van middele en bates, en swak etiek onder die hele perspektieflose bevolking vererger dus daagliks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.