Vakbond en SAKP eis einde aan staking; vakbond-lede moet hulself “verdedig”

Amcu-lede op 14 Mei 2014 by Wonderkop-stadion Foto: M Molaole/Sapa

Amcu-lede op 14 Mei 2014 by Wonderkop-stadion Foto: M Molaole/Sapa

Die vakbond NUM en die SAKP het Sondag versoek dat die maandelange staking in die platinumbedryf tot ʼn einde moet kom.

“Indien die dispuut nie opgelos word nie, gaan ons permanente skade sien in terme van werksverliese en persone wat hul eiendom verloor,” het Frans Baleni, uitvoerende hoof van die National Union of Mineworkers (NUM) ná die vakbond se vergadering van sy uitvoerende komitee in Johannesburg gesê. Hy het gesê die staking rig skade aan die land se ekonomie.

Intussen het Alex Mashilo, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Kommuniste-party (SAKP) ook Sondag versoek dat die werkgewers daadwerklik met al die betrokke partye moet vergader. Hy het gesê al die partye moet seker maak dat ʼn kollektiewe onderhandelingsooreenkoms onmiddellik bereik word. “Die mynmaatskappye, wat vroeër miljarde rande gemaak het, moet die noodkreet van die werkers verstaan,” het Mashilo gesê. Hy sê die SAKP doen ʼn beroep op die vakbonde om nie meer met mense se lewens of werk te dobbel nie.

Minstens vyf lede van NUM het reeds tydens die staking gesterf, het Baleni bygevoeg. “Die uitvoerende komitee versoek sy lede om hul reg uit te oefen om te gaan werk, en nog meer belangrik, doen ʼn beroep op sy lede om hul reg uit te oefen om hulself te verdedig teen enige vorm van geweld of intimidasie,” het hy gesê. “Beskerm jou familie, jou lewe en eiendom.”

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum en Impala Platinum se myne in Northam, Limpopo en in Noordwes. Hulle eis ʼn basiese maandelikse salaris van R12 500. Amcu het die werkgewers se aanbod, dat werknemers teen Julie 2017 R12 500 sal verdien, verwerp.

Die staking het werknemers tot dusver R8.6 miljard in inkomste gekos en maatskappye het reeds nagenoeg R20 miljard verloor, volgens die webwerf platinumwagenegotiations.co.za, wat deur die maatskappye op die been gebring is.

Die arbeidshof fasiliteer tans gesprekke tussen Amcu en die maatskappye, maar teen Vrydag was daar nog nie ʼn ooreenkoms nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

iris ·

Hierdie vakbonde moet uit landsake bly! Hulle gaan ons land verwoes!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.