Vakbond gaan staak oor minimumloon

Die vakbondfederasie Saftu het Maandag gesê dat hy in alle groot stede in die land gaan staak teen die nasionale minimumloon en sekere wysigings aan arbeidswetgewing.

Die regering het in November die nuwe minimumloon van R20 per uur of R3 500 per maand goedgekeur. Dit moes op 1 Mei in werking getree het, maar die departement van arbeid het intussen gesê dit sal vermoedelik vir een of twee maande uitgestel word.

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van Saftu, het gesê die filiale van die vakbondfederasie en sy vennote in die burgerlike samelewing sal betoog teen “die grootste aanval op die werkersklas, vakbonde en arm meerderheid van Suid-Afrikaners sedert die einde van apartheid”.

“Suid-Afrika is die mees ongelyke land in die wêreld, waar 10% van die bevolking meer as 50% van die huishoudelike inkomste verdien, terwyl 20% minder as 1.5% verdien,” het Vavi tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê. “Die magnate wat boonop hopeloos te veel verdien, met hul nuwe kampioen in die Uniegebou, multi-miljardêr pres. Cyril Ramaphosa, wil hê werkers en hul gesinne moet oorleef op slegs R20 per uur, iets wat hulle nooit self sou aanvaar nie.”

Vavi het gesê die wysigings tot die wet wat voor die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid dien, dwing werkers en vakbonde reeds om talle prosedures te volg om ʼn sertifikaat te bekom om aan ʼn beskermde staking deel te neem. “Dié wysigings sal vakbonde nou dwing om selfs nog meer hindernisse te oorkom voor hulle kan staak, insluitend streng stakingsmaatreëls wat stakers sal verhoed om met ander werkers te gesels en konsiliasieprosedures te verleng, selfs ná onderhandelings ʼn dooiepunt bereik het.”

Saftu-lede sal na verwagting in Johannesburg, Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein, Polokwane, Durban en Oos-Londen die strate invaar en Woensdagoggend na die departement van arbeid opruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dankie tog ·

Dankie tog ek is hiervan ontslae. Ek kan nou bekostig om die nodige gereedskap aan te skaf met daardie geld, sodoende vind ek ook uit dat hierdie gereedskap ook nie van kos voorsien hoef te word.

Righard ·

Wat die dom idiote nie verstaan is nie dat hulle verhooging van iewers af moet kom en uiteindelik net van die verbruiker verhaal gaan word. BACK TO SQUARE ONE. Dan staak hulle van vooraf want alles is duurder en nie eers te praat van alles wat afgebrand en gebreek is in die proses nie. So dom soos grond

We ·

Wens slim MENSE kan uitwerk wat kry die mense regtig wat daglooners is.

Ja my mense kry meer as huidige voor geskryf… R130.00/dag (ons bly in platteland)

Maar hulle ontvang ook:

# Gratis medies by Staat
# Gratis skool vir sy Baie kinders
# Kry veniet huis
# Gratis universiteit beurse
# Hier by ons Koppel hulle somer ook verniet aan by Eskom… en water by stadsraad…

Na belastig en al die bo-genoemde uitgawes het “Piet werker” meer kontant as ek aan die Einde van elke maand….

Want ek betaal belastig…. Sodat Piet al die ander leef kostes veniet kan kry…..

snoefie ·

die stakings begin seker ook 25/4 die violent staking wat waarsku dat mense gaan seerkry en wat deur die saps ontken word

outop ·

Vandat ons in ons huishouding elkeen sy deeltjie bydra kan ons nou sonder die huishulp klaarkom. Ons spaar baie kontant aan salaris en snaaks genoeg hou die kruideniers ons ook langer.Skat ons besparing so R5,000 per maand, dit is R60,000 per jaar

Gerrit ·

Die meerderheid in sa leef volgens die beginsel almal skuld hulle,min werk baie geld ,Margaret Thatcher het unies verbied in Engeland en dit het die ekonomie net sterker gemaak en meer mense het werk gekry maar ongelukkig dink sa se leiers nie, so want die geliefde presedent van sekere van die volk is self n bee opertunis wat sy rykdom gemaak het deur net te ontvang.

Amanda ·

Ai is hul met niks tevrede. Wees dankbaar jy het ñ werk en salaris daar is ander wat niks het. Ek werk vir R2400 ñ maand, ek het wel nie ander groot uitgawes soos huis motor , want ek loseer maar ek moet nog kos koop. Ek kom deur in ñ maand en ek leef en ek sê elke dag dankie ek is bevoorreg.

Mielie ·

Ek dink dis n voet in die deur om met daai tarief te begin. MAAR DIE VERBRUIKER GAAN DIT FINANSIER. As daar gekyk word na wat top bestuur en aandeelhouers verdien dan sê ek genoeg is genoeg. Kyk net na die salarisse van CEOs van die banke om nie eens van hulle bonusse en ander voordele te praat nie , en kyk dan na personeel en jnr bestuurders se salarisse. Skameteloos. Dis net een voorbeeld. In die korporatiewe wereld word daar basies seker gemaak topbestuur en aandeelhouers kry buitensporinge salarisse, verhogings en voordele. Dis asof hulle personeel nie n beter lewe gegun word nie. Die verbruiker moet deesdae alles absorbeer ten bate van groter winste vir maatskappye en hul aandeelhouers.

Go for it ·

YES Go for it .. staak julleself almal uit julle werk uit .. 750 000 swartmense werk tans vir minimumlone, so as julle dit wil verhoog, gaan julle julle werk verloor . maar GO FOR IT . ek ondersteun julle ten volle. Al wat ek weet is dat Lizzie en Raymond van Mei af sonder werk gaan sit . en dit is net in MY huishouding!

Elize ·

Kom nog altyd sonder hulp klaar in my huis. Is nie bereid om in die slaggat te val oor hulle “we demand” nie. Indien iemand by my kom kuier en die huis en tuin is nie volgens hulle standaarde skoon nie, dit staan julle vry om ‘n emmer met lap en grassnyer te vat en skoon te maak. Ten minste is my geld my eie en bly ek gesond deur my eie werk te doen (na my daaglikse werk en naweke) en het nie die frustasie om nog ekstra kos te voorsien of taxi gelde ook nog te gee buiten die salaris nie. Rol op julle moue en doen julle eie werk mense. Hou op skreeu teen die ander wat net wil “demand” en doen bietjie iets self. Ek kan nie verstaan dat die meerderheid van ons mense wat van hulle dienste gebruik maak die hardste skreeu teen hulle nie. Laat hulle uit jou erf en huis uitbly en ons sal sien wie gaan dan vir die agtergeblewendes sorg!!

Antjie ·

Ja, hulle grawe n gat vir hulself. hulle gaan verantwoordelik wees vir hul eie werksverlies. Hoe dom. Dan is dit mos gou om bakhand op winkelstoepe staan met n kry my jammer gesig, ek kyk reeds ander pad.

Casper Labuschagne ·

‘n Ekonomiese les: Jy word betaal vir wat jy werd is. As jou produksie R10 per uur werd is, en ‘n brood kos R10, dan werk jy ‘n uur om ‘n brood te kan koop. Maar as lone volgens wet verhoog word na R20 per uur, dan sal die kringloop van verhoogde insetkoste regdeur die ekonomie veroorsaak dat brood se prys noodgedwonge sal styg na R20 en die werker sal steeds ‘n uur moet werk om ‘n brood te kan koop. Gevolglik is die waarde van die geld waarmee werkers betaal word, eenvoudig gehalveer.

Maar iemand gaan kommentaar lewer dat ek hierbo ‘n strooiman argument gebou het, so kom ek stel dit dan soos in ‘n ekonomiese teksboek: As werkgewers lone moet betaal wat nie met produktiwiteit verband hou nie, dan sal die pryse vir jou goedere en dienste moet verhoog. Dit veroorsaak bloot ‘n kringloop van prysverhogings waar die effek van inflasie die werkers dikwels slegter daaraan toe sal laat as voorheen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.