Vakbond help werk vind vir CemAir-werkers wat afgelê is

(Foto: FlyCemAir via Facebook)

Die vakbond Solidariteit sê hy het uitgereik na verskeie lugrederye in ʼn poging om werk te help vind vir die meer as 60% van CemAir se personeel wat weens ʼn vroeëre vliegverbod afgelê is.

CemAir het vantevore na 11 bestemmings in sewe van Suid-Afrika se provinsies gevlieg, maar die redery was die afgelope paar maande in ʼn bitter stryd met die Burgerlugvaartowerheid (BLO) gewikkel om operasioneel te bly. Hy het intussen suksesvol teen die besluit om hom te verbied om te vlieg, geappelleer.

Die burgerlugvaart-appèlkomitee het verlede maand bevind die wesenlike foute wat gemaak is in die BLO se besluit om die lugdiens se bedrywighede op te skort, maak dit “irrasioneel, eiegeregtig, onbillik en prosedureel onregverdig”.

Solidariteit het gesê hoewel hy die appèlkomitee se uitspraak verwelkom, was daar geen redelike regsgronde om ʼn vliegverbod op CemAir se hele vloot te plaas nie.

“Dit is Solidariteit se oorwoë mening dat geregtigheid moet geskied vir die meer as 60% van CemAir se personeel wat as gevolg hiervan hul werk verloor het,” het Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit gesê.

Botha het gesê die BLO se optrede was strydig met sy regulatoriese verpligting om redelik op te tree, en dat daar aan CemAir ʼn redelike geleentheid gegee moes word om klagtes reg te stel.

Die vakbond het reeds aan die waarnemende direkteur-generaal van die departement van vervoer, Christopher Hlabisa, geskryf en ʼn ondersoek na die BLO se optrede gevra.

CemAir het vandeesweek in ʼn verklaring gesê hoewel die uitspraak ʼn oorwinning vir die redery is, hy nie bloot sy bedrywighede kan hervat nie. CemAir se sertifikaat wat hom toelaat om te vlieg, het intussen verval en hy werk saam met die BLO om dit te hernieu.

Dié proses het egter nou ook ʼn dooiepunt bereik, aangesien dieselfde inspekteurs wat in die appèlkomitee se uitspraak oor die vingers getik is omdat hulle “bevooroordeeld en onbekwaam” was, nou dié nuwe aansoek moet hanteer.

“Die BLO se mandaat is die veiligheidsoorsig van die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartbedryf. In die afwesigheid van enige beduidende veiligheidsbevinding teen CemAir, kan ons net bespiegel oor die werklike rede vir die verbod.

“Dit is geen geheim nie dat die Suid-Afrikaanse lugrederybedryf sedert die 1990’s taai is vir nuwelinge. Van die laaste 16 lugrederye wat geskeduleerde dienste bekend gestel het, vlieg slegs een vandag nog. Dit kan nie waar wees dat ʼn verkeerde sakemodel die oorsaak is vir dié mislukkingskoers van 94% nie. Dit is dus veilig om aan te neem die probleem lê by die regulatoriese owerheid,” het CemAir gesê.

Die redery het gesê hy verwag van die BLO se raad om diegene betrokke by die kwessie te skors, hangende ʼn onafhanklike ondersoek na die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tino ·

Nog ‘n bewys hoe onbevoegdheid en regstellende aksie die ekonomie terug sit.

Sterkte Cemair, julle het my ondersteuning

wraggies ·

Die inspekteurs het dalk vlesipakkies verwag vir hulle goedkeuring a la Bosasa.

Hans ·

Het al die BLO personeel almal erkende akademiese/teoretiese/tegniese opleiding en ten minste ‘n paar duisend ure praktiese ondervinding as loodse om lugdienste te beoordeel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.