Vakbond krapperig oor verpligte inentings by UK

Die Universiteit van Kaapstad. (Argieffoto)

Die South African Parastatal and Tertiary Institutions Union (Saptu) het Woensdag gesê hy is nie ten gunste van die Universiteit van Kaapstad (UK) se voorneme om inentings teen Covid-19 by dié universiteit verpligtend te maak nie.

Die vakbond glo studente en personeel behoort die keuse te hê om die inenting van die hand te wys, sonder om daaroor gestraf te word. Die vakbond dring voorts daarop aan om ingesluit te word by samesprekings by tersiêre instellings oor die voorgestelde verpligte inentingsbeleid.

Dit volg nadat die UK Maandag aangekondig het dat ’n voorstel om inentings onder studente en personeel te verplig, Vrydag aan die universiteit se senaat voorgelê sal word.

Adv. Ben van der Walt, hoofsekretaris van Saptu, sê die verantwoordelikheid om inentings verpligtend te maak moet aan die regering en nié aan werkgewers, waaronder tersiêre instellings, oorgelaat word nie.

“Volgens Saptu het die regering die verantwoordelikheid afgeskud deur die reeds onstabiele arbeidsmark met onderliggende probleme op te saal.

“In die bestaande opset word dwangmaatreëls met ’n persoon se werkskontrak verbind. Daar is ’n onbuigsame keuse tussen inenting en werkloosheid. Dit is onbillik en onnodig.”

Luidens die bepalings oor beroepsgesondheid en veiligheid wat in Junie vanjaar deur die departement van arbeid en indiensneming in die Staatskoerant aangekondig is, mag werkgewers ʼn beleid instel wat vir verpligte inentings teen Covid-19 voorsiening maak. Dit is egter aan ’n risiko-ontleding onderwerp.

Van der Walt sê voorts indien die regering glo massa-inenting is die antwoord om die koronavirus te beveg, dit nié werkgewers se verantwoordelikheid om dit af te dwing nie.

Die vakbond sê hy is gerat om regsadvies en ondersteuning aan werknemers – onder meer by tersiêre instellings waar Saptu baie lede het – te bied indien hulle deur ʼn verpligte inentingsbeleid in die gesig gestaar word.

“Saptu glo, onder die bestaande regulasies, dat werknemers besluite oor inentings moet kan maak sonder dat dit die toekoms van hulle werk beïnvloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.