Vakbond onderteken loonooreenkoms met Prasa

Die Untu-onderhandelingspan is lede van die uitvoerende raad Brian Davids, Rodney Blom, Casper Botha en adjunk-sekretaris-generaal Neels Haasbroek (Foto: Untu)

Die onderhandelingspan van die United National Transport Union (Untu) het Vrydagaand ʼn loonooreenkoms met die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) onderteken vir die huidige finansiële jaar.

Werknemers sal teen die einde van Junie ʼn 8% verhoging kry onder die algehele gewaardeerde pakket.

Die ooreenkoms, wat ook ʼn onderneming insluit dat Prasa nie enige afleggings in die huidige finansiële jaar sal implementeer nie, word tot 1 April terugdateer, het Eddie de Klerk, algemene sekretaris van Untu, gesê.

Prasa sal ook nuwe mediesefondsmakelaars beskikbaar maak aan sy werknemers, sodat personeellede uit ʼn verskeidenheid van mediese fondse kan kies wat hul unieke behoeftes en finansiële situasies pas.

De Klerk en Untu-president Wyndham Evans het die onderhandelingspan gelukgewens vir ʼn goeie ooreenkoms in ʼn baie moeilike ekonomiese klimaat.

Untu het in Februarie met onderhandelings begin en aanvanklik ʼn dubbelgetalverhoging geëis. “Ongelukkig het die onvoorsiene besluit [deur pres. Jacob Zuma] om die voormalige minister van finansies Pravin Gordhan af te dank, wat daartoe gelei het dat die land se kredietgradering tot rommelstatus afgegradeer is, ʼn negatiewe impak op die onderhandelings gehad,” het De Klerk gesê.

“Dit was eers nadat Lindikhaya Zide, die huidige waarnemende uitvoerende hoof van Prasa, aangestel is, dat die maatskappy dit duidelik gemaak het dat hy sy werksmag moet rasionaliseer en dit sou tot werksverliese gelei het indien daar aan die eise gehoor gegee sou word. As ʼn verantwoordelike vakbond is dit noodsaaklik vir Untu om werksverliese te voorkom en om die voordele, wat ons lede geniet, te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.