Vakbond onthul dossier oor Denel-wanbesteding

denel-dossier-dirk-hermann-solidariteit-2019-04-19-02

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, hou ‘n 200 bladsy dokument oor Denel se wanbesteding vas. By hom is Deon Reyneke dié vakbond se adjunkhoofsekretaris van die energiebedryf. Foto: Morné Prinsloo.

Die vakbond Solidariteit het Donderdag in ʼn verslag getiteld die Denel-dossier onthul dat die topbestuur van Denel verlede jaar tot 60%-verhogings ontvang het te midde van ʼn ernstige likiditeitskrisis by die wapenvervaardiger sedert 2016.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is hierdie verhogings toegeken in dieselfde tyd as wat Denel nie die nodige geld gehad het om die volle salarisse van werknemers in Desember te betaal nie.

“Denel is ook deur verskeie hulppakkette van die regering uit die moeilikheid gehelp en daar is gedreig om honderde werkers af te dank. Ondanks Denel se finansiële krisis het die topbestuur ook ʼn 100%-prestasiebonus ontvang,” het Hermann gesê.

Hermann voer aan dat die Denel-dossier binne die groter veldtog van Solidariteit teen belastingplundery gesien moet word. “Dit volg op Solidariteit se voorgenome aansoek om SAL onder besigheidsredding te plaas en die onlangse hofuitspraak teen Brian Molefe van Eskom,” het Hermann gesê.

In die verslag vra Solidariteit dat die topbestuur van Denel, onder wie die groepshoof- uitvoerende beampte, Zwelakhe Ntshepe, en die hoof- finansiële beampte, Odwa Mhlwana, geskors moet word hangende ʼn forensiese ondersoek.

Solidariteit vra ook dat beweerde finansiële wanbestuur, omseiling van tenderprosedures en minagting van interne beleid ondersoek word.

Volgens die Denel-dossier het die wapenvervaardiger verlede jaar ʼn gedeelte van die werknemers se salarisse afgetrek as deel van ʼn spaarplan wat namens die werknemers bestuur moes word. Denel se finansiële posisie was egter so swak dat die werknemers se eie geld nie uitbetaal kon word nie. “Denel was veronderstel om die geld namens die werknemers te bestuur. Dit blyk egter dat dit gebruik is om wanbestuur te finansier,” het Hermann gesê.

Solidariteit het vroeër vanjaar aan die voormalige minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, en toe later aan haar opvolger, min. Pravin Gordhan, verskeie skrywes gerig aangaande die vakbond se bekommernis oor die finansiële wanbestuur by Denel.

Solidariteit het ook voorts aangedui dat hy bekommerd is dat daar sowat 700 werksgeleenthede in gedrang kan wees weens die finansiële verknorsing by die maatskappy.

Die Denel-dossier toon ook aan dat daar grootskaalse verdeling onder Denel-werknemers is. Volgens ʼn opname wat Denel self gedoen het, het 82% van die werknemers aangedui dat hulle geen vertroue in die uitvoerende komitee het nie.

ʼn Opname deur Solidariteit bevestig dat slegs agt respondente aangedui het dat hulle neutraal teenoor Denel se groepshoof- uitvoerende beampte staan, terwyl 535 respondente gesê het dat hulle hom nie vertrou nie. “Bewyse van tientalle senior bestuurslui wat die afgelope tyd Denel se diens verlaat het, is ook bekend gemaak,” het Hermann bygevoeg.

Solidariteit wys voorts op beweerde oortredings van tenderprosedures en vra dat dit ook ondersoek moet word.

Verder het die vakbond dokumente bekend gemaak wat bewys dat die toekenning van ʼn R1,2 miljoen-beurs aan die seun van die Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, buite die korrekte prosedures geskied het en onregmatig toegeken is.

Volgens Hermann het pres. Cyril Ramaphosa en min. Gordhan hulle al by vele geleenthede teen korrupsie en staatskaping uitgespreek. “Denel het ongelukkig nie korrupsie of staatskaping vrygespring nie. Die Denel-dossier sal aan min. Gordhan oorhandig word met die oog op verdere optrede,” het Hermann saamgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cecilia ·

Die premier is bereid om die beursgeld wat aan sy seun toegeken is teruv te betaal, dus kon hy die studie bekostig het maar nogtans is ‘n beurs toegeken? Wat van die hope voornemende studente wat nie studies kan bekostig nie en hul ouers word beurse geweier op grond van dat benadeelde persone eers beurse moet ontvang! Uiters korrup en skandalig! Geen gewete nie!

Casper Labuschagne ·

Hierdie fliek het ek al ‘n paar keer gesien, dit begin elke keer met swart ekonomiese bevordering, pakkette vir die wit bestuurders, dalende verkope, afleggings en eindig dan in onthullings oor die verregaande selfverryking deur diegene in bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.