Vakbond onttrek van SAUK-staking

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SAUK-werkers wat lede is van die Communications Workers Union (CWU) het hulle van die staking onttrek wat Donderdag begin het.

Dit volg nadat lede van die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union (Bemawu) vroeër met ʼn landswye staking begin het nadat onderhandelinge tussen die SAUK, Bemawu en die CWU Woensdag ʼn dooiepunt bereik het. Die vakbonde eis ʼn salarisverhoging van 10% vir alle werknemers, terugwerkend tot April vanjaar. Die SAUK beweer egter hy kan nie tans enige verhogings bekostig nie.

Die CWU het Donderdag tydens ʼn perskonferensie gesê die vakbond het weens “tegniese regskwessies” van die staking onttrek.

Aubrey Tshabalala, CWU se hoofsekretaris, het gesê die openbare uitsaaier het ʼn brief aan die vakbonde geskryf waarin wetlike aspekte van die vakbonde se 48 uur-kennisgewing om te staak, uitgelig is. Die SAUK het die vakbond gedreig om die arbeidshof te nader om ʼn interdik teen die staking te kry.

“Ná oorlegpleging met ons regsadviseurs het ons die kennisgewing om te staak onttrek. Ons gaan eers die regsaspekte aanspreek,” het hy gesê.

Kaiser Kgyanyago, die SAUK se woordvoerder, het gesê die beginsel van geen-werk-geen-betaling geld vir alle stakende Bemawu-lede. Hy het ʼn beroep gedoen op diegene wat staak om nie hul kollegas wat wil werk, te intimideer nie.

Kganyago het gesê radio- en-televisie-uitsendings sal voortgaan soos beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

zoom zoom ·

Tyd om almal daar te fire en dan die deir sluit en sleutel weggooi. Is daar regtig iemamd wat werk in daai plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.