Vakbond probeer staking by Comair vermy

Argieffoto Foto: cyberairlines.net

Argieffoto Foto: cyberairlines.net

ʼn Stakingsertifikaat is aan die vakbond Solidariteit uitgereik nadat salarisonderhandelinge met Comair, waarby die lugrederye Kulula en British Airways geaffilieer is, finaal vasgeval het. Die vakbond wil ʼn staking probeer vermy.

Johan Botha, bedryfshoof van die professionele bedryf by Solidariteit, sê die geskil is verklaar omdat kajuitbemanning se salarisse sedert 2011 slegs op hul basiese salaris bereken is, en nie op werknemers se totale kostepakkette nie. Kajuitbemanning se basiese salaris maak slegs 53% van hul totale kostepakket uit. In 2012 is ʼn driejaarsalarisooreenkoms deur die partye onderteken, waarvolgens kajuitbemanning geen verhoging in 2012 ontvang het nie; ʼn verhoging van 7,7% op hul basiese salaris in 2012; en ʼn verhoging van 6,8% in 2014.

“Die 2012-ooreenkoms is bereik in ʼn tyd toe Comair finansieel swaargekry het. Ons lede het egter tot die lae verhogings ingestem om hul werkgewer tegemoet te kom. Topbestuur het nietemin in hierdie tyd verhogings van 12,4% op hul totale kostepakket ontvang,” het Botha gesê.

Volgens Botha het Comair se finansiële posisie intussen versterk en die maatskappy is nou in die posisie om sy werknemers met ʼn gunstige verhoging te beloon vir hul lojaliteit. “Ons is van mening dat ons lede daarop geregtig is om nou ʼn stewige verhoging te ontvang om hulle in staat te stel om die agterstand van die afgelope drie jaar in te haal. Volgens ons berekeninge moet ons lede ʼn verhoging van ten minste 12,3% op hul totale kostepakket ontvang om die agterstand in te haal.”

Volgens die laaste loonaanbod van die werkgewer sal werknemers óf ʼn verhoging van 7,5% op hul totale kostepakket ontvang, óf ʼn verhoging van 8% ontvang met die voorwaarde dat oortyd slegs ná 125 ure per maand bereken sal word. “Dit sal beteken dat werknemers hul eie verhoging moet befonds deur van hul oortydbetaling te moet inboet,” het Botha bygevoeg.

Solidariteit het sedert September 2014 probeer om met Comair hieroor te onderhandel, maar sonder sukses. Die vakbond het gevolglik in Desember verlede jaar ʼn geskil na die KVBA verwys. Die KVBA het Comair verplig om verder met Solidariteit te onderhandel en die partye het gevolglik die onderhandelinge op 22 Januarie 2015 tydens ʼn konsiliasieproses by die KVBA voortgesit.

Solidariteit is deel van ʼn samewerkingsooreenkoms by Comair waarvolgens daar kollektief namens lede onderhandel word. Solidariteit, wat die meerderheidsvakbond is, verteenwoordig 210 lede onder die kajuitbemanning se 389 werknemers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frik Dippenaar ·

Dit is so tipies van die top bestuur. Hulle gee nie ‘n flenter om vir die gewone mense nie en kyk net na hulleself. Sodra ‘n junior die topbestuursvlak bereik, belowe ek jou verander hy/sy total en al. Ek weet, ek was daar. Daar in nie soiets soos die sogenaamde besigheid-etiek nie. It is a total contradiction in terms!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.