Vakbond verkla Prasa oor gebrekkige beskerming teen Covid-19

(Argieffoto: Untu)

Die vervoervakbond Untu het ʼn formele klagte teen die Passasierspooragentskap (Prasa) ingedien omdat die agentskap glo werkers se lewe in gevaar stel deur hulle nie van persoonlike beskermingstoerusting tydens die Covid-19-pandemie te voorsien nie.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê die vakbond het Prasa by die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, verkla en gevra dat inspekteurs van die departement, asook die polisie en amptenare van die departement van handel en nywerheid dadelik ontplooi word om Prasa se depots te gaan ondersoek.

“Prasa se gebrek aan nakoming is verskeie kere onder die aandag van Prasa se administrateur, Bongisizwe Mpondo, gebring. Hy het dit na sy waarnemende bestuurders verwys wat net nog leë beloftes gemaak het,” het Harris gesê.

Volgens hom is die kwessie ook onder die aandag van Fikile Mbalula, minister van vervoer, gebring. Mbalula het glad nie gereageer nie.

Die vakbond sê Prasa laat sy lede wat noodsaaklike dienste verrig in die steek deur sy versuim om hulle van basiese toerusting te voorsien om hulle teen die virussiekte te beskerm.

Untu sê hy het gevra dat depots ontsmet word, maar dit is nie gedoen nie. Werkers kry ʼn enkele masker wat hulle soms drie tot vyf dae lank moet dra; diegene wat per motor reis om ondersoekwerk te doen het nie handontsmetttingsmiddels nie; daar word van werkers verwag om tussen vier en vyf mense per motor te reis, en skoonmakers by Prasa het nou boonop hul dienste onttrek.

Volgens Harris het Nxesi vroeër gedreig om die name van ondernemings wat hul werkers dwing om sonder behoorlike beskermingstoerusting te werk, aan die groot klok te hang.

“In die geval van Prasa is daar geen verskoning nie. Dit is ʼn staatsbeheerde onderneming wat ʼn voorbeeld moet stel aan ander werkgewers,” het Harris gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Burgermeester ·

Ek kan nie onthou dat Untu bekommerd was oor hul lede se veiligheid to verkeerde lokomotiewe ‘aangeskaf’ was nie. So gepraat van daai lokomotiewe, wat het van die goed geword?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.