Vakbond versoek uitstel om metaalbedryfstaking te vermy

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die vakbond Solidariteit het Donderdag ‘n versoek gerig dat onderhandelinge met 21 dae verleng moet word om ‘n staking in die metaal en ingenieursbedryf te vermy. Numsa het Donderdag aangekondig sy lede is bereid om onbepaald te staak.

Solidariteit het die skriftelike versoek aan werkgewers in die Nasionale Bedingingsraad vir die metaal en ingenieursbedryf (MEIBC), en ander vakbonde in die bedingingseenheid, gerig. Vakbonde en werkgewers kon nie tydens Woensdag se geskilronde ʼn ooreenkoms bereik nie.

Vakbonde eis tans ʼn loonverhoging van 12%, terwyl werkgewers ʼn verhoging van tussen 7 en 8% aanbied en terselfdertyd nuwe intreevlak-werknemers se minimumsalarisse wil halveer.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê Solidariteit wil ’n staking vermy. Solidariteit skoei sy versoek aan die MEIBC om die geskilronde te verleng op artikel 64(1)(a) van die gewysigde Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995), wat voorsiening daarvoor maak dat ʼn vakbond en bedingingsraad mag ooreenkom om onderhandelinge te verleng ter wille daarvan om ’n staking te vermy. “Solidariteit wil deur middel van die aansoek verhoed dat sy lede aan ʼn uitsluiting (“lock out”) deur die werkgewer onderwerp sal word sou ander vakbonde begin staak,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis staan vakbonde die werkgewers se huidige aanbod teen, aangesien dit ʼn klousule bevat waarvan die impak op bestaande werkers eers verder ondersoek moet word. Die voorstel, wat behels dat nuwe intreevlak-werknemers se minimumsalarisse halveer sal word, kan tot onstabiliteit binne die bedryf lei en vir radikale vakbonde die geleentheid gee om arbeidsonrus te saai. “Die vakbonde het eenparig besluit om die werkgewers se aanbod van die hand te wys, hangende heroorweging van die bepalings oor die intreevlak-werknemers se minimumsalaris,” sê Du Plessis.

Volgens Du Plessis is Solidariteit vasbeslote om deur onderhandelinge ’n ooreenkoms met die werkgewers te bereik. “Weens die negatiewe gevolge van die platinumstaking het partye ʼn groter verantwoordelikheid om in goeie trou te onderhandel. Ons verwag van werkgewers dat hulle erns maak met so ’n verbintenis om, ten spyte van geskilpunte, ’n wen-wen-oplossing om ’n onderhandelingstafel te beding,” sê Du Plessis.

Loononderhandelinge tussen vakbonde en die MEIBC duur sedert Mei vanjaar voort. Solidariteit verteenwoordig 21 849 lede in die bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.