Vakbond verwerp Gautrein se loonaanbod

Gautrain

Die United National Transport Union (Untu) het Woensdag gesê hy het albei ooreenkomste, wat die Bombela Operating Company (BOC) wat die Gautrein bedryf op die tafel gesit het, verwerp.

Kesagee Nayager, woordvoerder vir Gautrein, het gesê Bombela het op 17 Julie ʼn algemene verhoging van 7% (op basiese salarisse en toelaes) aangebied, plus ʼn mediesefondstoelaag van 50%, met ʼn kollektiewe aansporingsbonus van R8 000 per werknemer per jaar (ʼn algehele verhoging van 8.6%); of ʼn algemene verhoging van 8.5% (op basiese salarisse en toelaes), plus ʼn mediesefondstoelaag van 55% maar sonder ʼn bonus (ʼn algehele verhoging van 8.4%).

“Untu eis ʼn verhoging van 10% op die basiese salaris plus ʼn verhoging van 113% op ʼn behuisingstoelaag (van R750 tot R1 600), plus ʼn nuwe vervoertoelaag van R800 vir werkers wat nie op skof is nie, plus ʼn verhoging van 101% vir ʼn vervoertoelaag vir nagdiens (van R31,84 tot R64 per skof), met ʼn 10%-verhoging vir nagskof, mediesefondstoelaag van 55/45 en ʼn R20 000-bonus per werknemer per jaar (ʼn algehele verhoging van 19,6%),” het Nayager verduidelik.

Hy het gesê Bombela bly beskikbaar vir verdere onderhandelings via die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en is vol vertroue dat ʼn ooreenkoms bereik kan word voor die beplande staking begin. Bombela het ʼn vergadering met Untu vir Donderdag versoek. “Ons sal Vrydag kan bevestig of die staking Maandag sal voortgaan,” het Nayager gesê.

Untu het Dinsdag gesê hy het ʼn 48 uur-kennisgewing aan Bombela oorhandig dat sy lede met ʼn beskermde staking sal begin. Dit is die eerste keer dat Gautrein-werkers oor lone sal staak. Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê dié stap volg nadat die meerderheid lede wat vir die Gautrein werk tydens ʼn massavergadering Maandag by die Midrand-stasie ten gunste van die staking gestem het.

Untu het gesê sy eise is gegrond op “die huidige wêreldwye ekonomiese resessie wat ʼn verwoestende uitwerking op die daaglikse lewe” van sy lede het.

“Untu wil graag vooraf om verskoning vra aan pendelaars wat deur die staking geraak gaan word. Untu-lede het geen ander keuse as om aan ʼn beskermde staking deel te neem nie. Dit is Untu se laaste uitweg, in ooreenstemming met die Grondwet en Arbeidswet, om hul werkgewer te dwing om op hul eise ag te slaan,” het Harris bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alma ·

Kan daar nie nou mense in werkplekke gesit word wat nie aan n vakbond behoort nie. SA nou eerste stel nie. Hoelank gaan ons met mense werk wat nie die ekonomie verstaan nie

Spikkels ·

Wat dink julle gaan word van ons “monthly/weekly products” volgende week? Julle beter dit refund, of hulle gaan n paar stokende verbruikers ook by he

D ·

Is daar ni vir my ook ‘n joppie nie. Met al daai voordele kan ek lekker lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.