Vakbond verwerp kansellasie van verpleegstudente

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Die Young Nurses Indaba Trade Union (Ynitu) het die “onverwagse, onverantwoordelike” besluit deur die departement van gesondheid in Gauteng verwerp, om die inname van verpleegstudente by sommige kolleges in Gauteng te kanselleer.

Voornemende studente sou van 15 Januarie aanmeld om met hul vier jaar opleidingsprogram vir ʼn diploma in verpleging (algemeen, gemeenskap, psigiatrie en verloskunde) te begin, het Ynitu Saterdag in ʼn verklaring gesê.

Die studente het reeds die streng keuringsproses suksesvol afgehandel wat van Mei tot Desember 2017 deur die departement se sentrale keurkomitee gehou is. Die keuringsproses het akademiese kwalifikasies, psigometriese toetsing, onderhoude en mediese toesig ingesluit.

Altesaam 1 020 studente sou aanvanklik in 2018 met hul studies begin het, maar die getal is later verminder tot 700 weens beweerde begrotingsbeperkings en “nou hierdie vreemde aankondiging dat geen studente aanvaar sal word nie”.

Ynitu het die departement gewaarsku dat ʼn verwagting vir dié studente geskep word en talle het reeds hul vorige indiensneming bedank en matrikulante het ander studiegeleenthede van die hand gewys.

Ynitu eis dat die departement die besluit moet heroorweeg en doen ʼn beroep op alle suksesvolle kandidate om “met hul studies te begin soos beplan”. Die opleiding van verpleegsters is ʼn prioriteit om personeeltekorte aan te spreek en die gehalte van versorgingsgemeenskappe te verbeter, het Ynitu bygevoeg.

Altesaam 700 verpleegkandidate sal nie vanjaar met hul vierjaar-diplomakursus by drie kolleges in Gauteng kan begin nie, omdat die departement van gesondheid glo nie kan bekostig om hul studies te finansier nie, ondanks ʼn tekort aan verpleërs. Die verpleegkolleges sal dus slegs eerstejaarstudente kan aanvaar wat eksterne beurse het of diegene wat kan bekostig om self vir hul studies te betaal, het Times LIVE Vrydag berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cornelua ·

Kan ek net noem dat ‘n verpleegster nie 4 jaar leer om die hospitaal skoon te maak nie!!! Dit is die skoonmakers se werk. Jy het duidelik min insig en nog minder respek vir verpleegsters as jy hulle slegs as skoonmakers beskou.

Alet ·

Die regering kan nie opleiding van verpleegsters bekostig nie, maar belowe duisende ander studente gratis onderrig? Die land is ‘n grap.

Eish ·

Stem, ek kon nog nooit Afrika logika verstaan nie.
Dit gebeur wanneer kaderontplooing plaasvind ipv kundige ontplooing.

Jenny Bothma ·

In die Weskaap dieselfde. Die 2 kampusse nl George en Worcester se innames was ook gekanselleer agv geldtekort maar na vertoë gaan die innames voort maar by die kampus in Kaapstad en al George en Worcester se studente word nou by een kampus ingeprop . Die besluit om die kursus te kanselleer was blykbaar om finansiële redes geneem maar dis onbegryplik dat na heroorweging toe besluit is om almal by een kampus in te prop. Dít maak nie vir my sin nie want hoe gaan dít nou geld spaar? Opleiding kon mos dan nou net sowel aangegaan het by die oorspronklike kampusse waar die kinders aansoek gedoen het. Ek hoop maar net dat die besluit om al die kinders in een kampus in te prop word heroorweeg en dat die kinders na die kampusse kan teruggaan waar hulle oorspronklik aansoek gedoen het.

andrea van vuren ·

Dit kring nog wyer. Ek het ‘n voorgeskrewe Sielkunde boek vir die eerstejaarstudente geskryf. Nie ek of my twee mede-outeurs van UJ sal seker enige vergoeding ontvang nie. Wat word van al die geld?

My Opinie ·

Vir al die hardwerkende verpleegsters wil ek dankie se. Ek kan agterkom jul is nie net lojaal en trots nie, maar doen jul werk met passie en respek. Ek glo jul het hard gewerk waar jul is vandag en terug betaal aan jul studiegelde. Johan ek verstaan jou punt. N persoon raak ongelukkig oor party wat als verniet wil he en geen respek vir hul beroep het nie

Flip ·

Dit is skokkend om te dink dat daar nie geld is vir die noodsaklike dienste nie. Hierdie jong mense is bereid om vier jaar van hul lewens op te offer om na die hele land se burgers om te sien en dit teen n lae inkomste. Maar daar is geld vir duikbote wat niks beteken nie of vir treine wat nie op die spore pas nie of vir moontlike onnodige kernkrag wat miljarde gaan kos…..
Sterkte aan die voornemende studente en ek hoop nie ons verloor julle na die buiteland toe nie.

M'Lady ·

As ons weer sien, is al die skoonmakers in die hospitale bevorder tot verpleegsters. Probleem opgelos.

Lhs ·

Wonder ek so selwers, wie sou in elk geval vir hulle studies betaal het? Die wat self kan betaal met lenings, beurse ens. mag aangaan. So ek kan dink wie nou geraak word. Hulle moet maar ou Zuma kom laat verduidelik, gaan beset sommer Nkandla tot tyd en wyl.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.