Vakbond vra beskerming vir vier wat omstander glo skiet

Wits-studente het paaie by die universiteit met brandende bande versper. (Foto: Jo’burg Metro Police Department – JMPD, Twitter)

Die polisievakbond Sapu het gevra dat ʼn regverdige ondersoek gedoen word en die vier polisiebeamptes wat daarvan aangekla word dat hulle ʼn omstander tydens verlede week se studentebetogings doodgeskiet het, regverdig behandel word.

Sapu sê hy vrees dat die beamptes weens ongegronde inligting nie beskerm sal word nie en dat die polisiebestuur in die verlede vinnig was om onder sekere omstandighede beskerming te onttrek.

Die vakbond is ook van mening dat dit onwaarskynlik is dat borgtog toegestaan gaan word omdat die vier by ʼn hoëprofielsaak betrokke is.

Maroela Media het vroeër berig Mthokozisi Ntumba is tydens ʼn betogings by die Universiteit van die Witwatersrand in Braamfontein doodgeskiet toe lede van die polisie met rubberkoeëls op studente losgebrand het.

Die vier polisielede wat glo betrokke was, is intussen in hegtenis geneem. Hulle verskyn weer volgende week in die hof wanneer hulle na verwagting sal aansoek doen om borgtog.

Volgens die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) staan die vier polisiebeamptes tereg op aanklag van moord, poging tot moord en regsverydeling.

Sapu sê dat politici en Suid-Afrikaanse burgers egter reeds besluit het dat die voorval een van polisiewreedheid was – selfs nog voor enige feite in ʼn hof gestel is.

“Bheki Cele, minister van polisie, en pres. Cyril Ramaphosa het verlede week toegegee dat die polisie moontlik sy magte oorskry het toe daar op die betogings gereageer is,” lui Sapu se verklaring.

Die vakbond het ʼn beroep op Opod gedoen om sy werk onafhanklik te doen en nie te swig onder politieke invloed of druk wat die ondersoek moontlik in ʼn spesifieke rigting kan stuur nie.

“Ons vertrou ook dat hierdie beamptes billik behandel sal word en dat borgtog volgende week aan hulle toegestaan ​​sal word. Hierdie vier beamptes hou beslis nie ʼn vlugrisiko in nie, aangesien dit ʼn hoëprofielsaak is en hul huisadresse aan die polisie en die hof bekend is.

“Daar is geen toegewyde polisiebeampte wat die oggend wakker word en besluit dat hy vandag iemand gaan skiet nie. Daarom ondersteun ons hierdie polisiebeamptes en enige ander beamptes wat hulself in sodanige situasie bevind.”

Sapu sê ten spyte van sy steun aan die beamptes is hy gekant teen polisiewreedheid.

“Sapu wil slegs toesien dat ʼn deeglike en billike ondersoek gedoen word voordat hierdie polisiebeamptes skuldig bevind word deur die publiek en nie deur ʼn hof nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sêmanet ·

Hoekom het ons polisie as hul nie mag optree nie? Al kan ek verniet by WITS gaan studeer, sal ek nie belangstel nie. Kyk op die foto hoe sleg lyk dit. Kry hierdie mense nie skaam nie?

Willem ·

Ek stem saam met vakbond. Kyk nou na die wat gevang is met geweer. Hulle dalk die skuldiges

Agge nee ·

Het hierdie polisiemanne nie op iemand se bevel opgetree nie. Seer sekerlik gee iemand ‘n bevel dat daar nou op die betogers geskiet moet word met rubberkoeëls. Het hulle nie maar net hille werk gedoen nie. Was die man by ‘n oogarts? Kon hy nie sien en hoor daar is moelikheid in die straat nie? Ek sou nie niksvermoedend uitgestap het as ek skote kon hoor en mense sien hardloop het.

Casper ·

Onluste beheer is geen grap nie.Om skares uiteen te jaag word van rubberkoels,skokgrenate en waterkanonne gebruik gemaak.Dit word gedoen om skade aan infrastruktuur te voorkom.Daai polisieman of vrou skiet nie net vanself nie.Daar is instruksies wat gegee word.Hulle betoog omdat hulle nie vir studies wil betaal nie ook nie skuld wil betaal nie.Hulle kry alreeds finansieële hulp.

SomeOne ·

“toesien dat ʼn deeglike en billike ondersoek gedoen word”, is dit net van toepassing op polisie lede

Sarel ·

Nie SA Burgers nie maar Oproerige Studente…die srme goed ….Politici ..en Polisie Bestuur.
Gemeenskappe is gatvol vir die geweld masr miet tog ni
Kritiseer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.