Vakbond vra burgers om saam teen rasse-uitsluiting te stap

Johan Kruger, Dirk Hermann en Kalie Kriel tydens die mediakonferensie oor die Solidariteit Beweging se planne om ‘n massa-optog na die JSE en Sasol se hoofkantore op 25 Oktober te hou. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Solidariteit Beweging gaan op 25 Oktober ʼn massa-optog na die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) en Sasol se hoofkantoor in Sandton hou.

Die optog is ter ondersteuning van Sasol-werkers se staking teen die uitsluiting van wit mense uit ʼn personeelaandeleskema van Sasol en teen rasse-uitsluiting in die algemeen. Tydens die optog gaan hofstukke aan Sasol beteken word sodat Sasol se rasgebaseerde skema in die hof getoets kan word.

“Dié protesaksie is groter as Sasol. Sasol het die simbool geword van ʼn gevoel van uitsluiting van mense in die algemeen. Ons gaan stap teen rasse-uitsluiting in die algemeen, soos uitsluiting uit skole, universiteite en uit politieke besluitneming. Mense is moeg daarvan om uitgesluit te word. Al wat ons vra, is normaliteit en gelyke burgerskap,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Die massa-optog volg op Sasol se besluit om wit werkers van die Khanyisa-personeelaandeleskema uit te sluit. Solidariteit se lede het sedert die begin van September uit protes teen Sasol se rasse-uitsluiting ʼn sloerstaking gevoer.

Maroela Media het berig dat Sasol en Solidariteit onverrigter sake vroeër die maand uiteengegaan het nadat ʼn tweede ronde van konsiliasie by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geen oplossing vir die voortslepende dispuut oor die saak opgelewer het nie.

Dié vakbond het nou besluit om die dispuut na ʼn verdere vlak te voer en Sasol se rassebesluit in die hof te toets.

“Solidariteit het besluit om die hof te nader sodat Suid-Afrika duidelikheid daaroor kan kry of wit werkers op ʼn absolute manier van aandeleskemas uitgesluit kan word. Ons het ook besluit om ʼn memorandum aan die JSE te oorhandig om ʼn duidelike boodskap aan alle maatskappye in Suid-Afrika te stuur dat dié soort rassediskriminasie nie aanvaarbaar is nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in ʼn verklaring gesê.

“Suid-Afrika het sy sin vir balans verloor. Die rol van die burgerlike samelewing is om balans te bring. Die regering ken die taal van protes. Een optog na Sandton praat harder as ’n boek vol goeie argumente. Ons het die argumente waarom rasse-uitsluiting nie geduld moet word nie en nou voeg ons die protes by,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

’n Konvooi busse en motors gaan om 08:00 die oggend vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria vertrek. Mense uit ander rigtings kan om 10:00 veilig by die Rosebank Union Church bymekaarkom van waar busse hulle na Mushroom Park in Sandton gaan neem waar die optog om 11:00 gaan begin.

“Dit is baie simbolies om in die hart van Suid-Afrika se plaaslike en internasionale hoofstad ’n optog te hou.

“Sasol is aan die verkeerde kant van die rassedebat. Ná jare lange debatvoering het die regering, mynhuise, vakbonde en die gemeenskap in die Mynbouhandves ooreengekom dat alle werkers by personeelskemas ingesluit moet word. Sasol het besluit om die konsensus te verbreek. In plaas van ’n ooreenkoms dwing Sasol Solidariteit om hof toe te gaan. Dis jammer dat Sasol nie self die regte ding wil doen nie.

“Al die nodige toestemming is verkry. Dié stap gaan in Solidariteit-styl wees – sterk, sonder om skaam te wees, maar ordelik en sonder om iets te breek. Dit gaan veilig wees; jy kan dus enige belanghebbende saambring,” het Hermann verder gesê.

  • Mense wat wil saamstap, moet by www.solidariteit.co.za registreer sodat reëlings deurgegee kan word, of jy kan die woord StapSaam en jou naam per SMS stuur na 34802.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Sou ek graag hierdie optog wou bywoon! Ongelukkig is ek nie in die posisie om dit te doen nie en sal in gees saam met my volksgenote daar wees. Sterkte en word net voorspoed vir julle toe gebid

Heinrich

Sterkte ouens, wens julle alle suksesse toe. Kan ongelukkig nie self daar wees nie maar is daar in gees! Gee hulle gas!

WB

Ek is nie ‘n negatiewe mens nie, maar watter optogte het al ooit positiewe resultate opgelewer? Ek kan klaar voorspel wat die reaksie van links-liberale en die media gaan wees. Dit gaan eenvoudig aan die groot klok van wit rassisme en kolonialisme gehang word, ongeag hoe vreedsaam, gedissiplineerd of nobel die optog ook al sal wees. Laat ons nou maar realisties wees: Onder die huidige regering en hedendaagse politiese klimaat in die land, sal niks, maar niks, die lot of posisie van die blanke gemeenskap verbeter nie. Dit gaan inderdaad met rasse skrede net versleg vorentoe. Ons enigste hoop is… Lees meer »

Heidi

Nooi die hele Sandton CBD om julle te ondersteun.

Sendeling

Ons blankes het vir meer as 40 jaar ander rasse uitgesluit deur apartheid. Nou suffer ons die nagevolge. Daai was nooit n goeie idee nie.