Vakbond vra dat gevaartoelaag met byna 400% verhoog

Argieffoto: SAPD

Die polisievakbond Popcru versoek ʼn dringende hersiening en verhoging in dienstoelae vir lede van die polisie. Die vakbond versoek ook dat polisiebeamptes en personeellede onder die Staatsdienswet se gevaartoelaag met byna 400% aangepas moet word.

Die implementering van gevaarversekering vir staatsamptenare word ook gevra.

Popcru het in ʼn verklaring gesê talle amptenare in die strafreggroepering en gesondheidsbedryf word daagliks gekonfronteer met swak werksomstandighede. Die werksomstandighede het egter ondraaglik geword te midde van die Covid-19-pandemie.

Volgens die vakbond word diegene in die strafreggroepering boonop daagliks gekonfronteer met toenemende kriminele aktiwiteit in die land, terwyl hulle klaarblyklik alewig laaste in die ry te staan wanneer daar in behoeftes voorsien word.

“Met inagneming van die haglike omstandighede waarin hierdie beamptes hulself bevind, hetsy dit in die staats- of polisiediens is, het hul situasie versleg en dit is om hierdie redes dat hul gevaartoelaes hersien moet word,” voer Popcru aan.

Luidens die verklaring ontvang lede van die polisie sedert 2001 maandeliks ʼn gevaartoelaag van R400.

“Ons het ‘n dokument by die bedingingsraad vir die veiligheid-en-sekuriteitsektor (SSSBC) ingedien, waarin geëis word dat die toelaag tot R1 500 verhoog moet word, aangesien die aanvanklike toelaag volgens die SSSBC-ooreenkoms jaarliks ​met die Verbruikersprysindeks (VPI) verhoog moes word. Daar moet ook in ag geneem word dat lede se lewenskoste en die aantal gevaarlike situasies waarin hierdie beamptes hulself bevind, toeneem.”

Volgens Popcru bepaal die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) dat die gevaartoelaag vanaf 1 April elke jaar met die VPI moet styg.

“Ons doen ook ‘n beroep op die implementering van gevaarversekering vir alle staatsamptenare. Ons ervaring is dat die voordele wat aan beamptes se families uitbetaal word, indien hulle aan diens sterf, nie genoeg is om familielede in staat te stel om hul skoolopleiding te voltooi of in hul basiese behoeftes te voorsien nie.

“Hierdie gevaarversekering sal help om dié familielede se omstandighede te verbeter,” meen Popcru.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Oros Soros ·

R 400 per maand as gevaartoelae vir ons polisielede is om die minste te sê skokkend min. Hoekom is die bedrag nie aangepas van 2001 nie?

Cherokee ·

Seker moet die boere dan ‘n gevaartoelae van 500% kry. Misdaad styg erger as inflasie.

Simon ·

Absolute gekheid! Die publiek moet liefs ‘n gevaartoelae ontvang om hul teen die SAPS en ander amptenare te kan beskerm!

Persheks Adri ·

Regtig? Hulle doen dan klaar niks nie en is korrup.

Tsek man ons werk vir ons geld!

Moerby1212 ·

Moenie al die polisie beamptes van KORRUPSIE..beskuldig nie. Daar is beamptes wat elke dag hulle werk eerlik doen. Onthou n klomp vrot APPELS kan baie skade doen. Maar een ding sal ek se … die BURGELIKE PERSONEEL SIT HEELDAG IN DIE KANTOOR HULLE WERK NIE ONDER GEVAAR SITUASIES.NIE.

marius ·

Waarom betoog eerbare polisie nie voor die howe teen hul verotte kollegas nie ? Moenie veralgemeen teen burgerlikes nie . Ons is die mense wat beroof , vermoor , aangeval word helder oordag en saans in ons huise . Privaat sekuriteits maatskappye moet misdaad voorkomend optree in die polisie se plek . Daar is geen verskoning daarvoor nie .

Anel ·

Meer as die helfde van hulke het nie vuurwapenbevoegdheid nie, so hy kan nie op straat werk nie. Gee die spesialiseenhede, die mense wat reageer op oproepe en betyds opdaag, ‘n aanpassing. Maar die lot wat in die kantore sit en die ander wat wag vir die skof om verby te gaan, niks. Verder het hulle geweet wat die onstandighede was toe hulle aan gesluit het. Maar sien, daar is bitter min van hulle vir wie dit, soos vroeër,’ ‘n roeping is en nie net’ ‘n job nie. Daar is baie toegewyde lede wat dit verdien, maar daar is net so baie wat dit nie verdien nie.

Kokerboom ·

Gevaartoelae teen hartversaking vir staatsamptenare sou hul begin werk. Beste oplossing: raak ontslae van hul(Polisie,t onderwysers, verpleegsters uitgesluit maar weermag ingesluit). Ons gaan hul nie eers mis want ons weet nie eers hul is daar

Frans ·

Laat hule tog ma net by die huis sit en wages kry gee die verhooging vir die skelms hule darm 24/7 op die job

Yvonne ·

Ek weet nie meer teen wie almal moet hulle beskerm word nie….1ste teen hulself….

Scalla ·

Ek dink die grootste gevaar is van die onbevoegde kollegas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.