Vakbond waarsku Prasa ‘is ʼn tydbom’

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Steve Harris, algemene sekretaris van die United National Transport Union (Untu), het gesê die veiligheid van passasierstreine in die land verswak daagliks tot só mate dat “dit net ʼn kwessie van tyd is voor ons nog ʼn ernstige treinongeluk sien”.

Volgens Harris was daar ʼn toename in treinkapings in Gauteng, maar die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) swyg hieroor. ʼn Treinkaping gebeur wanneer pendelaars hul drywer dwing om ʼn onbekende roete te volg. “Die drywers word op spesifieke roetes opgelei. Voor hulle op ʼn nuwe roete mag ry, moet hulle opleiding ondergaan. Wanneer pendelaars ʼn drywer dwing om op ʼn onbekende roete te ry, bestuur die drywer as’t ware blind. Hulle weet nie waar die sinjale of ʼn draai of ʼn steil helling is nie. Wanneer hulle gedwing word om dit te doen, kan die trein maklik ontspoor en dit kan tot sterftes lei,” het Harris verduidelik.

Die situasie het vererger nadat die spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR), die waghond van treinveiligheid, Prasa toegelaat het om treine handmatig te bestuur, op voorwaarde dat die trein nie vinniger as 30 km/h ry nie. Dit het gebeur om treinveiligheid te verseker, nadat die RSR bevind het dat menslike foute gelei het tot twee ongelukke in die Oos-Rand, binne ses maande van mekaar.

“Prasa kan nie al sy gebreekte sinjale vervang nie en ook nie van handmatige magtiging ontslae raak nie, weens die voortslepende kriminele aktiwiteit en vandalisme van die spoorweginfrastruktuur. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se spoorwegeenheid het ook nie die kundigheid of misdaadintelligensie om koperdiefstal deur internasionale sindikate te bekamp nie. Hulle teiken die spoorweginfrastuktuur, omdat dit só ʼn sagte teiken is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Waar is die ou spoorweg polisie, erken tog julle is nie opgewasse vir die taak nie.

marous ·

Die hele land is ‘n trein vol gelaai , met die hele bevolking ,wat in ‘n staalmuur gaan vas foeter …. binnekort.

bgj van der westhuizen ·

wel as jy mense in plek het wat nie weet wat hulle doen nie wat kan jy verwag as mense aan gestel word op kleur en nop wat hulle kan doen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.