Vakbond wil deel wees van ondersoek oor ontploffing by RDM

Die toneel by die Rheinmetall Denel-depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap (3 September 2018). Foto: Phando jikelo/African News Agency

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) in die Wes-Kaap het Dinsdag gesê hy sal die departement van arbeid skriftelik versoek om deel te wees van die formele ondersoek oor die ontploffing wat by Rheinmetall Denel Munition (RDM) plaasgevind het.

Agt persone is dood tydens die ontploffing wat die hele gebou verwoes het.

“Denel SOC besit 49% van RDM en Numsa geniet erkenning by Denel as vakbond. Ons het ʼn belang in die saak, aangesien die erkenningsooreenkoms op ʼn nasionale vlak onderteken is,” het Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, gesê. “Dit gee ons die reg om deel te wees van enige ondersoek wat by die aanleg plaasvind om die oorsaak van die ontploffing te bepaal. Ons is besorg dat ʼn maatskappy, wat deels deur Denel besit is, só tragedie moet ervaar. Ons is ook besorg oor die veiligheid van werkers by die aanleg en ons wonder of alle veiligheidsprosedures gevolg is.”

Hlubi-Majola het gesê dis moontlik dat die maatskappy riglyne van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid blatant geïgnoreer het, maar het bygevoeg slegs ʼn onafhanklike ondersoek sal dit kan bevestig.

Sy het gesê ʼn onafhanklike en deeglike ondersoek van die aanleg sal die oorsaak van die ontploffing kan bepaal. “Hulle sal alles in hul vermoë doen om die waarheid te bepaal. Ons eis geregtigheid en vergoeding vir diegene wat hul geliefdes verloor het en diegene wat tydens die voorval beseer is.”

Sy het gesê Numsa betuig sy meegevoel met die families en naasbestaandes. “Jason Hartzenberg (21) was een van die werknemers wat oorlede is. Volgens berigte het hy gedroom om ʼn polisiebeampte te word. Ons innige meegevoel aan Hartzenberg se familie en vriende, en almal wat geliefdes verloor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.