Vakbond wil nie-stakers se reg om te werk herstel

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van  Solidariteit Foto: Reint Dykema

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit gaan ʼn dringende aansoek by die grondwetlike hof indien om die reg om te werk van nie-stakende werkers in die platinumbedryf te herstel.

“Ons is besig om die aansoek op te stel,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, Dinsdag gesê. “Ons wil ʼn dringende aansoek by die grondwetlike hof indien sodat die werknemers se reg om te werk, herstel word.”

Solidariteit wil ʼn hofbevel bekom sodat die dienste van die nie-stakende werkers weer herstel sal word.

Die mynmaatskappye het alle werk vir nie-stakers opgeskort weens die staking. “Ons wil hê nie-stakende werkers moet weer hul werk kan hervat,” het Du Plessis gesê. “Hulle kan met minimumproduksie begin.”

Indien die aansoek suksesvol is, sal die hofbevel nagenoeg 40 000 nie-stakende werkers, diensverskaffers en kontrakteurs beïnvloed. Dit sluit lede van Solidariteit en ander nie-stakende werkers in.

Solidariteit wil ook ʼn hofbevel bekom vir bykomende polisiëring om die veiligheid van diegene wat vir werk aanmeld, te verseker. “Ons voorsien nie dat die staking binnekort tot ʼn einde gaan kom nie, as mens in ag neem dat dit ideologies gedryf word,” het Du Plessis bygevoeg.

Hy sê vakbondlede, wat nie aan die staking deelneem nie, het ongeveer 40% van hul vergoedingspakkette verloor, omdat hulle verhoed word om te werk. Dié vergoedingspakket sluit ʼn toelaag indien jy opdaag vir werk, vervaardigingsbonusse, oortydbetaling en spanbonusse in.

Volgens Du Plessis sal Solidariteit die hof versoek om die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te beveel om seker te maak dat orde in die Noordwes-platinumgordel herstel word. “Dit is eerder ʼn humanitêre ramp as ʼn arbeidsdispuut.”

Hy sê die staking het nou ʼn breekpunt bereik waar stakers en nie-stakers só baie geld verloor het, dat die loonooreenkoms nie meer die verliese kan inhaal nie. “Hulle is nou afhanklik van vriende, familie en instansies. Dit moes nooit hierdie punt bereik het nie,” het Du Plessis gesê.

Hy sê ʼn mynwerker het gemiddeld tussen agt en 10 onafhanklikes, wat beteken dat miljoene mense deur die bykans vyf maande lange staking geraak word.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Implats in Noordwes en Northam in Limpopo. Hulle dring aan op ʼn basiese maandelikse salaris van R12 500. Hulle het die werkgewers se vorige aanbod, dat die werkers teen Julie 2017 R12 500 per maand sal verdien, verwerp.

Ngoako Ramtlhodi, minister van minerale hulpbronne, het net ná sy aanstelling, ʼn taakspan saamgestel om die werkgewers en Amcu by te staan om tot ʼn vergelyk te kom.

Die platinumvervaardigers het Maandag aangekondig dat die taakspan onttrek het en het Ramatlhodi vir sy ingryping bedank.

Volgens die webwerf Platinum Wage Negotiations wat deur die werkgewers opgestel is, het die maatskappye reeds bykans R22 miljard in inkomste verloor en die werknemers meer as R9.7 miljard. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Desiree ·

Hemelse Vader ons dra hierdie versoek op aan U en vra dat U sal help dat hierdie versoek sal goedgekeur word sodat die mense wat nie wil staak nie kan werk en dat alles in die Rustenburg omgewing herstel sal word en ons bid ook vir hul veiligheid in Jesus se Naam vra ons dit.
Amen

Shannon ·

Hemelse Vader ons weet, vertrou, dat U die regte van individue volgens die populêre neo-godsdienstige wanbegrippe ten volle aanspoor. Ek persoonlik weet ook dat U met my sal saam stem as ek sê ons erken die ‘reg om te kan werk’ as die eint resultaat van baasskap d.m.v. kop-gespoelde klasies wie dink hulle is slim .. verlig.
Vergewe ons vader want ons weet nie waarom ons hier is nie en ons weet nie eintlik wat ons veronderstel is om te doen nie. Amen !! Amen etc. etc.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.