Vakbonde bereik ‘baanbreker-ooreenkoms’ met Harmony Gold

myn staking mynhoed

Argieffoto

Die vakbonde Solidariteit, Num, Amcu, Uasa en Numsa het Donderdag ná drie maande van onderhandelinge ʼn driejaar-loonooreenkoms met Harmony Gold bereik.

Die ooreenkoms word as ʼn “grondverskuiwende oomblik” bestempel weens die verbetering op mynwerkers se basiese salarisse en die gemeenskaplike bedinging wat plaasgevind het.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê dit is die eerste keer dat die drie tradisionele mynbouvakbonde – Solidariteit, Num en Uasa – saam onder die vaandel van ʼn koalisie onderhandel.

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, sê dit is ook die eerste keer dat alle vakbonde by Harmony Gold op die eerste dag teken sonder dat hulle tot staking hoef oor te gaan.

Die ooreenkoms maak onder meer daarvoor voorsiening dat mynwerkers, ambagsmanne en amptenare ʼn 6%-salarisverhoging per jaar vir die volgende drie jaar sal ontvang.

Werknemers in kategorie 4 tot 8 sal ʼn verhoging van R1 000 per jaar oor die volgende drie jaar ontvang, terwyl die behuisingstoelaag oor die volgende drie jaar van R2 750 na R2 990 en na R3 240 verhoog sal word.

Die ooreenkoms stel die laags betaalde werkers by Harmony Gold – wat tans gemiddeld R10 478 verdien – in staat om gemiddeld R13 478 teen die derde jaar van die ooreenkoms te verdien.

“Dít is ʼn belangrike mylpaal. Mynwerkers by Marikana het R12 500 tot lewensloon verklaar en hulle het gesterf in die stryd om die eis,” sê Hlubi-Majola.

Die ooreenkoms bly terugwerkend tot 1 Julie en tree onmiddellik in werking wat beteken dat werknemers vanaf dié maand reeds beter lone sal verdien.

Du Plessis sê die ooreenkoms is inderwaarheid “ʼn oorwinning vir elke werknemer”, asook ʼn oorwinning vir gemeenskaplike bedinging aangesien die skikking sonder ʼn dooiepunt of ʼn dispuutproses bereik is.

Du Plessis glo die fokus behoort nou na die Sibanye-Stillwater se goudsektoronderhandelinge, wat op ʼn dooiepunt afstuur, te verskuif.

“Ná drie maande van onderhandelinge staan Sibanye se salarisaanbod op 2,6% vir mynwerkers, ambagsmanne en amptenare, asook ʼn R300-verhoging vir werknemers in kategorie 4 tot 8, met ʼn skrale verhoging vir jare twee en drie. Sibanye se aanbod is ver benede die skikking wat by Gold Fields se South Deep-myn bereik is wat tussen 6% en 8% wissel. Dit is ook laer as die Harmony-skikking wat vandag bereik is. Sibanye wat armoede om die onderhandelingstafel pleit, sal by Harmony en Gold Fields moet leer hoe om ʼn progressiewe benadering tot salarisonderhandelinge te volg. Sibanye bestee tans meer tyd daaraan om hom op ʼn moontlike staking voor te berei as om ʼn skikking te probeer bereik.”

Die vakbonde se ooreenkoms met Harmony Gold bly tot 30 Junie 2024 van krag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Hierdie mense het nog n werk met n inkomste maar hulle skiet vraat vir nog geld!!!!Gaan my verstand te bowe!!!!!

Karina

Ek was in ‘n steenkool myn naby Ermelo, dit is haglike omstanddighede waaronder die mense werk. Donker, koud, nat, dit raas met al die masjiene. Wat van goudmyne, etlike meters/myle ondergronds. Dit is gevaarlike werk en die mynwerkers verdien ‘n goeie salaris. Dit is maar net my opinie – gesien hoe lyk dit daar in ‘n steenkool myn. Ek weet dit is hul keuse om daar te werk, maar iemand moet dit doen.