Vakbonde gaan appelleer oor Mango-besluit

Vakbonde sê hulle wou ook ʼn situasie voorkom waar konsultante weer meer as R200 miljoen verdien het – soos in die geval van die SAL se sakereddingsproses – terwyl werkers sonder salarisse sit. (Foto: Elaine Krige)

Die Mango-vlieëniersvereniging (MPA), die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) en die metaalwerkersvakbond Numsa gaan appelleer teen ʼn hofbeslissing wat die laekostelugredery Mango se aansoek om in vrywillige sakeredding geplaas te word, toestaan.

Op hul beurt is die vakbonde se aansoek om die redery in sakeredding te laat plaas deur die Johannesburgse hooggeregshof van die hand gewys.

Die vakbonde sê in ʼn gesamentlike verklaring hulle is bekommerd dat ʼn “gevaarlike regspresedent” deur die uitspraak geskep kan word.

“Ons is teleurgesteld met die besluit. Ons het ʼn billike en deursigtige proses in samewerking met Mango se bestuur gevra, wat die rede is waarom ons die hof genader het,” lui die verklaring.

Die vakbonde sê gegewe die “rampspoedige” sakereddingsproses by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), waarvan Mango ʼn filiaal is, het hulle gehoop sake sou dié keer anders verloop. Die SAL se sakereddingsproses is in April vanjaar eers afgehandel nadat die redery reeds in Desember 2019 in sakeredding geplaas is.

“Ons wou ʼn werklike omkeerstrategie verseker wat nie gegrond is op afleggings nie, maar om die onderneming op die duur volhoubaar te maak.”

Vakbonde sê hulle wou ook ʼn situasie voorkom waar konsultante weer meer as R200 miljoen verdien het – soos in die geval van die SAL se sakereddingsproses – terwyl werkers sonder salarisse sit.

Volgens die vakbonde is hulle veral bekommerd daaroor dat maatskappye ʼn resolusie oor sakeredding in teorie kan deurvoer, maar dit in werklikheid nooit indien nie. “Dit was die geval met die Mango-raad wat drie en ʼn half maande lank op die resolusie gesit het. Hulle kan dit dan later gebruik as ʼn likwidasie-aansoek teen die maatskappy gebring word.”

Die vakbonde sê ten spyte van die hofbeslissing is hulle tevrede dat Mango steeds gedwing is om in ʼn sakereddingsproses te gaan. Hulle meen as dit nie vir hul volgehoue druk was nie, die departement van openbare ondernemings Mango se ineenstorting sou toelaat en likwidasieprosesse die redery in die gesig sou staar.

“Dit was die geval by SA Express waar die departement bloot sy arms gevou het en geweier het om die redery teen likwidasie te beskerm. Was dit nie vir die ingryping van vakbonde soos Numsa en Sacca nie, sou SA Express vandag gelikwideer gewees het,” sê Irvin Jim, algemene sekretaris van Numsa.

Ook Jordan Butler, voorsitter van die vlieëniersvereniging, sê werkgeleenthede is nie net by Mango nie, maar dwarsdeur die waardeketting gered.

Zazi Nsibanyoni-Mugambi, president van Sacca, sê die ware toets lê egter daarin om te sien hoe vinnig geld vir salarisse beskikbaar gestel word en hoe vinnig die redery sy bedrywighede hervat.

Al die redery se vlugte is laat verlede maand onbepaald opgeskort.

Die vakbonde sê hulle wag nou op die hof se redes vir die beslissing in Mango se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

Dit is alom bekend dat die hele SAL groep op verskeie maniere uiters swak bestuur is maar die vakbonde was ook nie engeltjies nie. Toe dit pap gereen het by wyse van veel hoër as inflasie salaris aanpassing het hulle lustig saamgeskep. Hierdie proses begin nou momentum optel en sal hom waarskynlik ook in die res van die owerheids organisasies afspeel.
Dis soos die sosialistiese utopia regtig lyk, nie die wonderlike afgedwonge gelykheid wat ons so dklwels voorgehou word nie.

Nico ·

Daar is te veel vakbonde, wanneer bulle se spring vra die regering hoe hoe hoof.

RB ·

En SAL se moeilikheid is nog lank nie op n einde.

Daar is baie vetkryk gebruik om die ou prentjie in te kleur sodat dit nuut lyk!
Van die nuut aangestelde vlieëniers se kwalifikasies is onder verdenking. Daar was al vroeër sake teen hulle maar die mat is groot en dik, die besem vee gewillig als onderin.

Daar is gèèn manier hoe ek met SAL vlieg nie. Ek loop liewer of bly net waar ek is as hulle my enigste opsie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.