Vakbonde gaan weer in Marikana opruk

Die koppie by Marikana. (Foto: Bongiwe Mchunu)

Lidmaatskap van enige vakbond of party moet nie ʼn doodsvonnis wees in ʼn demokratiese land nie, het Cosatu Vrydag gesê voor sy byeenkoms in Marikana.

“Die voortgesette moorde en gewelddadige aanvalle op lede van die [National Union of Mineworkers] NUM en sy leiers moet ophou en kan nie langer geduld word nie,” het Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, in ʼn verklaring gesê. “Wetstoepassers moet hul werk begin doen en die oortreders aankeer.”

Hy het gesê die vakbondfederasie veroordeel die voortgesette geweld en intimidasie van werkers in Marikana naby Rustenburg in Noordwes.

“Ons ondersteun die beginsel van vryheid van assosiasie, veral vir die werkersklas. Lidmaatskap van enige vakbond of enige party moet nie ʼn doodsvonnis wees in ʼn demokratiese land nie.”

NUM-lid Kaizer Madiba is op 1 November op pad werk toe doodgeskiet.

Cosatu en NUM sal na verwagting Sondag by die Wonderkop-stadion saamkom. “Hierdie byeenkoms is ʼn herinnering aan werkers dat die voortgesette geweld, wie se slagoffers die uitgebuite massa bly, hulle verswak en die fokus en beskuldiging verskuif van die mynbase wat sistemies kollektiewe onderhandeling ondermyn en verdeling onder werkers bevorder.

“Terwyl werkers mekaar vermoor en probeer oorleef op werkloosheidstoelaes, sit die mynbase in gerief en geniet die winste van dieselfde werkers wie se families nou van hul enigste broodwinners beroof is.”

Altesaam 34 stakende mynwerkers van Lonmin is op 16 Augustus 2012 dood toe die polisie op hulle losgebrand het. Die werkers het aan ʼn onwettige staking deelgeneem. Hulle het ʼn maandelikse salaris van R12 500 geëis. Minstens 10 persone, insluitend twee polisiebeamptes en twee Lonmin-veiligheidswagte, is ʼn paar dae tevore dood voor die polisie op die stakers begin skiet het.

Pamla het gesê politieke opportunisme en populisme ondermyn blywende oplossings vir die probleme wat in die eerste plek tot die 2012-tragedie gelei het.

“Die nalatenskap van die Marikana-tragedie moes ʼn verandering gewees het in die lewens van die mynwerkers en om die mynboumaatskappye aanspreeklik te hou vir die skade wat hulle al eeue lank aan die werkers en gemeenskappe berokken het. Ongelukkig sal ons dit glad nie kan bereik nie, omdat sommige persone besluit het om Marikana te kaap vir kleinlike politieke en selfsugtige doelwitte.

“Sewe jaar later gaan die werkers nog steeds gebuk onder geweld wat die mynboubedryf, spesifiek die platinumgordel, teister. Marikana kan nie ʼn slagveld word vir werkers en ʼn speelgrond vir sluipmoordenaars nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wurmpie ·

Vakbonde vakbonde vakbonde. Raak ontslae van hulle. Hul regeer die land en dit groot deel hoekom ons is waar ons is

Johanna Botha ·

Hoekom ? Met Marikana se geskiet het die stakers destyds skape lewendig gebrand in komberse en geglo dat dit hulle onsigbaar sou maak ..kan mens dit glo !

JV ·

Jy’s heeltemal reg!! As parlementslede aangesê word hoe om te stem (soos in zuma se geval en ‘n paar ander) is daar mos net eenvoudig geen sprake van demokrasie nie!!

John ·

… en wie is Pamla… Is dit ‘n Suid-Afrikaanse burger?… Wat is sy kwalifikasies en magsposisie om so hoogdrawend en meerwaardig sy weergawe van gebeure tot waarheid te verhef? Van die unies wil die land se super-regering/-regstelsel vorm, na wie die werkers moet luister as sou hulle die ware hoeders van werkers wees en hulle woord wet.

Sarel ·

Check die feite….. minstens 10 persone waaronder 2 polisie manne en 2 veiligheidswagte……is gedood in die voorafgaande dae……

Iets groots moet gebeur om die onwettige protes stop te sit.

Dis al

Frikkie ·

Gatvol vir al die politiek..wonder wie het eerste gemoor..moes die arme polisie nou toekyk hoe hulle eie mense vermoor word.. Soos gewoonlik is die spul onskuldig…

m.d.r. ·

Darem verbasend hoe sommige berigte in die media geskryf word.
34 mynwerkers geskiet ….hulle het aan ‘n onwettige staking deel geneem.
Dan as ‘n nagedagte :minstens tien mense, insluitende 2 polisie beamptes en twee veiligheidswagte is paar dae tevore dood voor die polisie op die stakers begin skiet het…..

Dit was juis die dood van hierdie mense wat waarskynlik die skietery veroorsaak het. Hierdie mense is wreedaardig vermoor.
Dit was uit-en-uit ‘n geval van oorsaak en gevolg—maar dit word nie so gestel nie. en die persepsie word geskep dat die polisie eintlik die vark in die verhaal is.

Dieselfde wyse van beriggewing word tot vandag toe gebruik wanneer daar na Sharpeville verwys word.
Die voorafgaande moorde op nege polisiemanne by Cato Manor word gerieflikheidshalwe verswyg, en was beslis ‘n aanleiding en oorsaak tot Sharpeville.

Kan die media dan tog nie leer om NIE die kar voor die perde in te span nie ?

andre ·

Ek hoor die ‘doodsklokke’ lui vir die kommunistiese vakbonde! (Wat die eerste staatskapers was … lank vóór die Guptas).

RIP COSATU en vriende!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.