Vakbonde kap na SAL se sakeredders

(Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se uitvoerende en senior amptenare – volgens vakbonde van die bes betaalde rederyhoofde ter wêreld – het nog nie aangebied om ʼn sent van hul vergoeding prys te gee nie en kry steeds hul volle salarisse.

“Wêreldwyd is die lugvaartbedryf onder geweldige en ongekende druk weens die Covid-19-pandemie. In ʼn poging om die rederye se oorlewing te verseker, het talle hoofde wêreldwyd hul salarisse gesny, in sommige gevalle met tot 100%,” het die metaalwerkersvakbond, Numsa, die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Saapa) en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca), Maandag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die vakbonde sê die optrede van die SAL-bestuur is ondenkbaar en as die SAL weer suksesvol wil wees, sal almal opofferings moet maak.

Die drie vakbonde sê lede het aangebied dat hul salarisse twee maande lank met tot 49% verminder word. Die hoër betaalde lede van Saapa (die vlieëniers) is bereid om die meeste in te boet, terwyl diegene wat minder verdien se salarisbesnoeiings minder sal wees. Hulle sal ook by die regering se tydelike noodverligtingsfonds (Covid-19-TERS) eise indien.

Die sakereddingspraktisyns het die aanbod verwerp en volgens die vakbonde teruggegaan op hul woord dat hul dit sou aanvaar. “Die salarisbesnoeiings ten bedrae van sowat R82 miljoen was veronderstel om genoeg tyd te verseker sodat die SAL kon herstruktureer, pasgemaak en hervorm kon word,” het die vakbonde gesê.

Die vakbonde sê hulle is bereid om saam met die minister van openbare ondernemings te werk in die verband.

“Dit lyk egter nie of enige opoffering genoeg gaan wees vir diegene wat vasbeslote is om die SAL, vir watter duistere redes ook al, te verwoes nie.”

Die vakbonde sê hulle het vertroue in die praktisyns verloor en dat hulle boonop onregverdig probeer het om alle werkers in die pad te steek en die SAL se bedrywighede op te skort.

Werner Human, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê in dié stadium is die groot vraag nie wat die pad vorentoe vir die SAL is nie, maar óf daar ʼn pad vorentoe is.

Human sê dit is ontstellend dat daar die afgelope ruk weinig vordering by die SAL gemaak is en dat die sakereddingspraktisyns duidelikheid moet gee oor presies wat die stand van sake daar is.

“Vir Solidariteit is dit onstellend dat daar die heeltyd uitstel is. Dit vergroot onsekerheid. Uiteindelik gaan die werknemers van die SAL – asook die heel belastingbetalerskorps – die prys betaal.”

Human sê terwyl gesprekke gehou, forums gestig en programme op die been gebring word, is daar steeds nie ʼn sakereddingsplan voorgelê nie.

Hy sê daar is geldige en regverdige kritiek op die sakereddingspraktisyns wat vir miljarde rande gevra het, maar tot nou nog nie duidelikheid gegee het waarvoor die geld gebruik is nie.

Human sê ander groot kwessies is of daar finansiering beskikbaar is en of dié finansiering geregverdig kan word.

Die praktisyns het verlede week in ʼn voorlegging aan parlementslede volgehou hul plan is dat die SAL se bedrywighede opgeskort word.

Numsa, Sacca en Saapa sê daar is nou die gevaar dat werkers geen salarisse gaan kry nie, terwyl die sakereddingspraktisyns, hul konsultante en raadgewers glo al meer R200 miljoen vir hul werk tot dusver betaal is. Hulle sê die praktisyns het geen lugvaartervaring nie en het in hul taak misluk.

Hulle sê die praktisyns het die SAL se vlugte in Februarie verminder en sy vermoë om ʼn inkomste te verdien ʼn ernstige knou toegedien. Hulle het sedertdien ook toegelaat dat die SAL se vrag-afdeling ander rederye gebruik om sy vrag te vervoer. Dít terwyl werkers, vliegtuie en infrastruktuur ledig is.

Vakbonde eis ʼn forensiese oudit van die sakeredders se uitgawes, die opskorting van die praktisyns se hofsake en die vermindering van konsultasie- en regskoste. Hulle sê as die sakereddingspraktisyns nie die idee van ʼn nuwe, nasionale rederye steun nie, moet hulle aan die proses onttrek.

Die vakbonde sê hulle is deeglik bewus van die druk op die staatskas, veral nou tydens die Covid-19-pandemie, en dat hulle plan is om die SAL kommersieel lewensvatbaar en finansieel onafhanklik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Gee SAA vir die unies laat ons sien wat doen daai slim manne

marius ·

Net nog ‘n geld wassery . Hierdie was net oee verblindery om tyd te wen om ‘ n nuwe korrupte ding saam te flans . Geen sent van die regering word spandeer sonder dat daar kloue ingeslaan word nie . Dis die waarheid .

Nie Verbaas ·

Wat van n forensiese oudit op SAL se bestuur en die hele ANC. As dit nie vir wanbestuur was nie was SAL nou sonder probleme. Waar was die vakbonde toe?

Stefan ·

Maar hulle het dan gestaak vir meer as inflasie verhogings, dit het die verbruikers boikot begin en sodoende hul ondergang.
Help niks om nou vir minder te wil werk nie.

Sarel ·

Ekskuus my….moet die werkers betaal vir die korupsie en swak bestuur binne die verskillende Bestuurhoofde. Aikona…ondersteun Solidariteit hierdie aanbeveling?

J ·

Daardie werkers was vir jare lank OORbetaal! Baie meer geld ontvang as wat hulle diens werd was! Die SAL bankrotskap is die bewys daarvoor.

Hulle is opportuniste wat probeer om NOG MEER ONVERDIENDE GELD uit die staatskas te “gryp”!

As belastingbetaler eis ek onmiddellike afdanking opgevolg met die noukeurige verhaling van die jarelange OORbetalings!

Dudu en haar rampokker trawante moet tronk toe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.