Vakbonde, SAL-sakeredders steeds haaks

(Argieffoto: Themba Hadebe/AP)

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) het nog lank nie die stryd by die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) laat vaar nie.

Die SAL is einde verlede jaar in sakeredding geplaas ná die lugdiens die afgelope twee jaar meer as R10 miljard se verliese gely het. ʼn Staking verlede jaar het die lugdiens ʼn verdere knou toegedien en die lugdiens daagliks meer as R50 miljoen uit die sak gejaag.

Die vakbonde voer nou aan die praktisyns het verskeie aspekte van die Maatskappywet wat verband hou met werkers se regte, verontagsaam. Hulle sê onder meer dat werkers by die lugdiens voorkeur- ongesekureerde krediteure van die SAL is. “Hulle is geraakte persone en het gevolglik sekere regte. Dit is duidelik dat ons lede se regte ingevolge die sakereddingsproses geskend word,” het die vakbonde Dinsdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Hulle het aan die praktisyns geskryf en eis dat die werkers se regte beskerm word.

Die sakereddingspraktisyns beoog om teen 6 Maart ʼn sakereddingsplan vir die lugdiens voor te lê, maar die vakbonde hou vol dit kan nie gedoen word nie, alvorens:

  • alle betrokke dokumentasie rakende die SAL se sake aan werkers voorgelê is;
  • met werkers in gesprek getree is oor die plan;
  • die konsep-sakereddingsplan aan werkers voorgelê word sodat hulle insette daaroor kan lewer en moontlike alternatiewe kan voorstel; en
  • werkers genoeg tyd gegee is om die plan te hersien sodat hulle voorstelle daaroor kan maak.

Volgens die vakbonde het die sakereddingspraktisyns eensydig besluit om die SAL te herstruktureer en word dit sonder vakbonde se insette gedoen.

Hulle sê SAL-werkers word boonop gestoomroller om veranderings aan hul diensvoorwaardes te aanvaar.

“Die sakereddingspraktisyns het briewe aan werkers gestuur wat deur die opskort van 11 roetes – en drasties verminderde werksure – geraak word. Hulle gaan voortaan drie of vier dae per week werk. Ons het ons lede aangeraai om nie die ooreenkomste te onderteken nie omdat dit ingevolge arbeidswetgewing ʼn skending van hul regte is.”

Die vakbonde sê as die sakereddingspraktisyns nie teen vandag op hul eise reageer nie, hulle die hof gaan vra vir ʼn bevel dat die finale sakereddingsplan nie bekend gemaak mag word nie.

Die vakbonde wend hul intussen direk na die arbeidsappèlhof nadat hul aansoek om verlof tot appèl teen ʼn beslissing van die arbeidshof vroeër misluk het. Die vakbonde het die hof gevra om enige afleggings by die SAL te verbied, maar die aansoek is van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leon ·

Duidelik verstaan die vakbonde nie wat saker edding beteken nie. Sakeredding is die stap voordat jy die deure toemaak en ALMAL sonder werk sit.
Miskien moet hulle maar SAA onder likwidasie plaas. Dan het die vakbonde geen sê nie. Dan stap hulle in en skop almal uit. Dan wil ek sien wat dei vakbonde sal doen. Dan verloor hulle, hulle vakansie geld wat hulle nou soek. So ‘n bietjie minder miljoene in die vakbonde se sakke sal hulle nie doodmaak nie.

Kobus ·

Stem Leon.SAA is waar hulle is oor die gierigheid van vakbonde en hulle populistiese gierigheid wat ‘n huwelik met die ANC verseker het.Ek het verstaan dat die sakeredding deur die hof beskerm word en dat geen inmenging van watter aard toegelaat sal word nie.Maar soos ons nou al gewoond is,is die wet en howe net daar vir sekere aksies en word alles deur massa optrede beheer en vernietig.Kan steeds nie glo hoe ANC aan die SAA vasklou nie.

4ntj13 ·

Dis mos nou ooglopend dat SAL te swaar dra aan werkergetalle as hulle sal regkom met 3 dae se werk per week! Daai salarisse moet dalk eerder elders verdien word as uit belastingbetalers se sakke. Die sakeredders is sekerlik nie die werkgewer nie, en ek twyfel of hulle onder die arbeidswette val. Sonder enige ooreenkoms met unies, kan hulle dalk vir SAL red. As hulle nie kan nie, gaan niemand meer werk hê nie.

Nie Verbaas ·

Vakbonde, wat verstaan julle nie onder die term sakeredding nie? Julle het n massiewe aandeel in waar SAA homself nou bevind. Nou wil julle nog demand??

Charmain ·

Is dit nie dieselfde vakbonde wat hulle lede verlede jaar so vurig aangemoedig het om te staak nie? Hulle het bloed uit n klip probeer tap. Die SAA was toe reeds al op sy knieë maar nee die kaders het n staking aangemoedig. Moenie nou huil nie!

Fanie ·

Vakbonde sal, nes hulle alliansievennote, nooit werklik die ekonomie verstaan nie. Hulle wil te veel sê in maatskappye hê, salarisverhogings te probeer afdwing of ‘n maatskappy dit kan bekostig al dan nie. Ons kort ‘n Jan Smuts (1922 mynstaking) of Margaret Thatcher hier om vakbonde op hulle plek te sit en te verban. Dis een van die redes hoekom werkloosheid sit waar dit sit. Tyd dat ons land van die kommunistiese ideologie bevry word en weer vrye markbeginsels toegepas word. Alternatiewelik sluit ALLE SOE’s en jaag die werkloosheidsyfer dan maar op. Dan kan die ANC alliansie maar vir sy ondersteuners verduidelik hoekom hulle sonder werk sit.

Sarel ·

Vakbonde…..julle is deels verantwoordelik en dit het tyd geword dat julle aandeel erken. Gedurige eise vir buitensporige salarisse en stakings. Nou pluk julle die vrugte

Peetjie ·

Vakbonde is en was een van die groot redes, saam met korrupsie deel van die ondergang van SAL, en enige ander maatskappy wat ondergaan… Ek hoop hulle word bokveld toe gestuur…

Naas ·

Die vakbonde moet die boodskap kry dat hulle nie deel van die sakereddingsplan is nie. Ek hoop die Arbeidsappélhof sien dit ook so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.