Vakbonde, staat by kantelpunt in salarisstryd

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Vakbonde en die staat is nou in die verwagte reusestryd gewikkel oor die minister van finansies, Tito Mboweni, se aankondiging in verlede maand se begrotingsrede dat staatsdienssalarisse se verhogings veel laer sal wees.

Nadat die regering ‘n salarisverhoging van 0% aangebied het, het al die vakbonde wat tans by die onderhandelinge betrokke is, die aanbod verwerp.

Een vakbond, naamlik die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu), is so ontstoke dat hulle dreig om op 30 Maart te staak en ‘n massa-optog te hou vir hoër salarisse en lone. So ‘n staking van spesifiek gesondheidswerkers kan baie negatief inwerk op die land in ‘n tyd dat die korona-epidemie sy kloue behoorlik begin inslaan.

Maar, so sê Maroela Media se bronne in die onderhandelings, in hierdie benadering staan Nehawu alleen. Geen ander vakbond steun tans hul benadering nie – deels omdat dit in die huidige klimaat as teenproduktief gesien word, en deels omdat die ander vakbonde meen dis in hierdie geval makliker om die regering (as hul werkgewer) in die hof uit te knikker.

Oor moontlike sukses in die hof staan die vakbonde se argument op twee bene. Eerstens is vanjaar die derde jaar van ‘n driejaarooreenkoms oor salarisverhogings, wat die staat nou eensydig verbreek. Die vakbonde meen dus al wat nodig is, is dat die hof die bestaande ooreenkoms afdwing deur dit ‘n hofbevel te maak, wat volgens die vakbonde ‘n noodwendigheid is, want die geskrewe ooreenkoms is volgens hulle bindend.

Die tweede punt wat die vakbonde in so ‘n hofsaak sou wou aanvoer, is dat die staat ‘n verhoging van 4,2% toegestaan het aan twee sektore werkers wat ook deur die staat betaal word, maar onder ander salaris-regimes as die res van die staatsdiens val, te wete die nasionale tesourie en die regsprekende gesag (regters en landdroste).

Regters en landdroste se salarisverhogings is trouens Woensdag deur die Nasionale Vergadering goedgekeur in hul heel laaste handeling voordat die parlement onbepaald verdaag het weens die koronavirus.

Dit het die ontevrede vakbonde ekstra woema gegee in hul stryd teen die 0%-verhoging. As die vakbonde wen, gaan dit baie moeilik wees vir Mboweni om sy begrotingsplanne deur te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rudolf ·

Laat hulle staak, en arresteer die hele spul, die wet is mos nou oor geskryf geen byeenkomste waar meer as 100 mense teenwoordig is nie. Ons mag dan nie eers kerk toe gaan nie!

Moedeloos ·

Die vakbonde moet leer dat daar n tyd en n plek is vir als. Die vakbonde kan nie die land regeer nie. Alles raak duurder en die mense kry swaar maar ons land is in so gemors dat werkgewers swaar kry. Laat die ministers en VIP ouens eerste aan hul salarisse begin sny

Anoniem ·

Dit raak nou werklik tyd dat Mnr Ramaphosa sy rug styf maak en die fakbonde in hul MAAI stuur. Ons land is tot op die skeenbeen bankrot en dan wil die vakbonde nog onderhandel oor salaris verhogings. Nee a magtag ……………………….Vakbonde gebruik asb. jul verstand. Absoluut geen Salarisverhogings nie, En Vakbonde wat is julle bydrae tot hierdie Viruspandemie??? Wie regeer die land??? …………………..Regering of die Vakbonde????

christo ·

Die groot probleem vir staatsamptenare (trouens ek is een) is die vermorsing van reuse bedrae belastinggeld op SAL en Denel asook ander staatsondernemings wat nie bestaansreg het nie.
Denel het miljarde in hulppakette ontvang maar die Mnr. Du Toit , hoofbestuurder van Denel sê geen produkte is gelewer nie as gevolg van ‘n gebrek aan produksie kapitaal. Dus het daardie mense niks gedoen nie maar wel salarisse ontvang. Denel en SAL is twee entiteite wat nie ‘n noodsaaklike diens lewer nie, want die privaat sektor kan dit goedkoper en teen ‘n wins doen. Dit is nie asof SA nog sanksies het nie want ons kan dit goedkoper kry op die ope mark.
Dus is dit onregverdig teenoor staatsamptenare, soos byvoorbeeld onderwysers, wat baie van Maroela se lesers se kinders onderrig, as gevolg van swak staatsbestuur die spit moet afbyt. SAL se lede het wel salarisverhogings ontvang.
SAL het meer werknemers per passasier as enige lugredery in die wêreld. Dis snert.

Niné ·

Maar die rykes soos regters en magistrate se verhogings is chop chop goedgekeur. Die armeres ….niks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.