Vakbonde steun SAL-vlieëniers se dreigende staking

(Foto: flysaa.com)

Die National Union of Metalworkers (Numsa) én die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitpersoneel (Sacca) het Woensdag hul steun gegee vir die beoogde staking van SAL-vlieëniers.

Vlieëniers by die Suid-Afrikaanse Lugdiens dreig om vir die eerste keer in sowat 80 jaar te staak weens wat hulle bestempel as ʼn gebrek aan leierskap by die staatslugdiens.

Numsa en Sacca sê in ʼn verklaring hulle steun vlieëniers verbonde aan die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) se eise dat die redery, wat gekortwiek word deur gebrek aan finansies, dringende stappe doen om ʼn behoorlike omkeerplan en ʼn terugkeer na bestendigheid te verseker.

Die SAL het Maandag gesê hy is teleurgesteld deur die dreigement van ʼn staking terwyl daar deurlopend oor Saapa se eise vergader word.

Numsa en Sacca het gesê hulle lede het al talle betogings en optogte gehou om die bestuurskrisis by die SAL aan die groot klok te hang. Hulle het ook probeer ingryp toe die voormalige SAL-groephoof, Vuyani Jarana, in Junie vanjaar bedank het uit frustrasie met die regering se verset om ʼn omkeerplan wat hy saamgestel het, te finansier.

“Ons vra voortdurend dat die raad hersaamgestel word en dat verteenwoordigers uit die arbeid- en sakesektor, asook die regering, daarop dien. Op dié manier kan vakbonde ʼn oorsigrol speel en goeie bestuur en deursigtigheid verseker,” het die vakbonde gesê.

“Ons het al telkemale aan Pravin Gordhan [minister van openbare ondernemings] geskryf en hom gevra om die huidige raad te ontbind. Die raad kom nie sy pligte na nie en is ʼn struikelblok eerder as ʼn oplossing vir die redery se probleme.

“Ons wil dit duidelik stel dat terwyl ons ons eie planne maak om die minister te dwing om die raad te ontbind, ons enige pogings, ook die staking van vlieëniers, sal ondersteun om dié bate te beskerm en korrupsie uit te roei,” het Numsa en Sacca gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter

bate?? – vir wie wonder ek.