Vakbonde verwerp Eskom-loonaanbod

(Foto: AFP PHOTO/GIANLUIGI GUERCIA)

Die vakbonde NUM, Numsa en Solidariteit het Eskom se loonaanbod van 3,75% verwerp en die kragvoorsiener gekap oor hoe hy die onderhandelinge tot dusver hanteer het.

Die eerste ronde van loononderhandelinge het Woensdag begin en gister klaargemaak.

Die vakbonde het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle het Eskom se aanbod van die hand gewys aangesien dit minder as inflasie is. Hulle eis ʼn ooreenkoms van twee jaar terwyl Eskom nie hieraan wil toegee nie weens sy finansiële beperkinge. Die vakbonde eis ʼn loonverhoging van tussen 10% en 15%.

Die vakbonde het ook sterk ten velde getrek teen die narratief dat hulle vir beurtkrag verantwoordelik is. “Al ons lede is uiters hard aan die werk om die ligte aan te hou.”

Eskom se bewering dat hy nie die eise wat vakbonde stel kan bekostig nie, is egter deur die vakbonde verwerp. Volgens hulle kon die kragvoorsiener dit nie bewys nie aangesien hy niks gedoen het om die koste van onafhanklike kragprodusente, steenkool en diesel, wat elke jaar met 15% of meer styg, te verlaag nie.

“Hulle het nie ’n probleem om hierdie diensverskaffers elke jaar buitensporig te betaal nie, maar werkers in die bedingingsraad, wie se voordele en pakkette soos weerspieël in die finansiële jaarverslae sedert 2016/’17 dieselfde gebly het, word aangesê om ‘peanuts’ te aanvaar.”

Volgens Gideon du Plessis van Solidariteit was dit nie ʼn goeie begin vir die eerste ronde van onderhandelinge nie en was Eskom nie voorbereid nie en is daar onprofessioneel opgetree.

Du Plessis sê die vakbonde weet Eskom is onder druk, maar indien daar net ʼn meer professionele omgewing geskep kan word waarbinne onderhandel word, kan daar vinniger ʼn uitkoms wees. “Dit kan in ʼn mate gegewe Eskom se omstandighede daartoe lei dat ons ʼn skikking kan bereik sonder dat daar weer enige onwettige nywerheidsaksies van ander vakbonde is.”

Die vakbonde het ook hul ongelukkigheid uitgespreek oor Thulane Ngele, hoofbestuurder van menseverhoudinge by Eskom, oor sy optrede tydens die onderhandelinge.

Volgens Du Plessis het Ngele sarkastiese opmerkings gemaak wat onvanpas was en tot onnodige spanning gelei het.

Daar sal nog twee rondes onderhandelinge wees tot einde Mei met die volgende ronde wat op 8 Mei begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.