Vakbonde verwerp Eskom-loonaanbod

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het aangekondig dat hy Eskom se openingsaanbod van ʼn 4,5%-salarisverhoging tydens die eerste ronde van vanjaar se onderhandelings van die hand gewys het.

Die vakbond het ook die kragreus se voorstel dat die ooreenkoms vir ʼn tydperk van vier jaar moet geld, teengestaan.

Volgens Deon Reyneke, hoof van Solidariteit se metaal-, ingenieurs- en elektriese Bedryf, is Eskom se aanbod teleurstellend, aangesien dit laer is as die huidige VPI-inflasiekoers van 6,1%. “Die vakbonde het Eskom se aanbod eenparig verwerp en ons het versoek dat Eskom ’n realistiese hersiene aanbod, wat bo die huidige VPI-inflasiekoers van 6,1% is, moet maak,” het Reyneke gesê. “Boonop is Solidariteit se lede nie vir ʼn vierjarige loonooreenkoms te vinde nie en sal die vakbond dus poog om die voorstel van die baan te kry.”

Die aanbod van ʼn 4,5%-verhoging, wat verlede week deur Eskom gemaak is, is ook op ander komponente van werknemers se vergoedingspakket van toepassing.

Volgens Reyneke is Solidariteit se huidige eise soos volg:

• ’n Verhoging wat gelykstaande is aan die VPI-inflasiekoers plus drie persentasiepunte, asook ’n verhoging van R500 op die huidige R2 000-behuisingstoelaag; en
• in die geval van ’n meerjarige ooreenkoms,’n verhoging wat gelykstaande is aan die VPI-inflasiekoers plus vier persentasiepunte, asook ’n verhoging van R500 op die huidige R2 000-behuisingstoelaag.

Reyneke het die hoop uitgespreek dat die onderhandelings so spoedig moontlik afgehandel kan word. “Ons is hoopvol dat ons tydens die volgende ronde ʼn gunstige ooreenkoms vir ons lede sal bereik sonder dat dit ʼn onnodig uitgerekte proses hoef te wees,” het hy gesê.

Die volgende ronde samesprekings vind op 28, 29 en 30 Mei 2014 plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

zahn ·

Sal hierdie patetiese aanbod deur die topbestuur en direkteure aanvaar word as dit vir hulle aangebied was? Seer sekerlik nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.