Vakbonde verwerp loonaanbod by goudmyne

Argieffoto

Onderhandelinge oor salarisverhogings in die goudsektor is Woensdag hervat en tydens dié ronde het mynhuise aanbiedings gedoen oor die stand van sake by die onderskeie mynhuise.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het die Mineraleraad volledig op Solidariteit se eise gereageer. “Die vakbonde het egter die raad se openingsaanbiedings vir salarisverhogings van die hand gewys,” het Du Plessis gesê.

Werkers eis ʼn salaris van R9 500 per maand vir oppervlakwerkers en tussen R10 500 en R12 500 vir intreevlak- ondergrondse werkers, bo en behalwe ʼn behuisingstoelaag van R5 000.

Goudmynmaatskappye het hul driejaar-loonaanbieding Woensdag ter tafel gelê. Dít wissel van ʼn 5,5%- en 6,5%-verhoging vir ondergrondse werknemers en ʼn 3% tot 4,5%-verhoging vir myners, beamptes en ambagsmanne.

Livhuwani Mammburu, woordvoerder van die National Union of Mineworkers (NUM), het Woensdag gesê dié aanbod is ʼn belediging vir werkers. Mammburu het gesê NUM eis steeds R9 500 vir oppervlakwerkers, R10 500 vir ondergrondse werkers en ʼn 15%-verhoging vir die ambagsmanne, myners en beamptes.

Mammburu het gesê die vakbond sal dié “beledigende” aanbod terugneem na sy lede vir hulle om die finale besluit te maak. “Al die belanghebbendes sal volgende week Woensdag weer ontmoet en die vakbonde sal terugvoer gee oor hul lede se mandaat.”

AngloGold Ashanti, Harmony Gold, Sibanye-Stillwater en Village Main Reef het altesaam byna 80 000 mense in diens.

Du Plessis het voorts gesê dat Solidariteit teleurgesteld is in die Mineraleraad wat die meeste eise van die vakbonde verwerp het. “Die raad het selfs eise wat geen finansiële implikasies inhou nie, soos Solidariteit se eis met betrekking tot werkerverteenwoordiging op maatskappyrade – ʼn beginsel wat in ooreenstemming is met die konsepmynbouhandves – verwerp,” het hy gesê.

“Mynhuise wat betrokke is by die goudsektoronderhandelinge het by die tradisie van die afgelope paar dekades gehou deur ʼn besonder somber prentjie in hul onderskeie aanbiedings oor die sektor se swak prestasie en vooruitsigte te skets,” het Du Plessis bygevoeg.

Daar is volgens Du Plessis Woensdag tydens die onderhandelinge weer eens baie klem gelê op hoë salariskoste en lae produktiwiteit. Volgens Du Plessis word die salarisse van hoofkantoorwerkers en senior personeel by die salariskoste ingesluit en dit is daarom vals om die mynwerkers se salariseise uit te sonder as oorsaak van groot salarisrekeninge.

“Daar is genoem dat senior personeel by Sibanye byvoorbeeld slegs ʼn 3,5%-salarisverhoging gekry het, maar hierdie verhoging moet in randwaarde omgeskakel word en dan met werkers se verhogings in randwaarde vergelyk word om ʼn ewewigtige prentjie te kry,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het gesê dat dit ook verstommend is dat lae produktiwiteit as ʼn probleem uitgelig word, terwyl produksie ʼn bestuursverantwoordelikheid is en dit eintlik op swak bestuur neerkom indien produksieteikens nie bereik word nie.

Du Plessis meen verder dat die toename in mynsterftes ook ʼn aandeel het in laer produksie weens mynsluitings en dit is veral Sibanye-Stillwater wat hand in eie boesem moet steek om eers hul veiligheidsprobleme hok te slaan, om sodoende die impak daarvan op produksie te verlig.

“Dit is ook belangrik om by maatskappye soos Harmony Gold en Village Main Reef te leer hoe hulle verliesmakende myne by AngloGold Ashanti oorgeneem het, wat onder hul beheer onmiddellik hoër produksie gelewer het,” het Du Plessis gesê.

Solidariteit het die 3%-loonaanbieding van Sibanye-Stillwater, 4,5% van Harmony en AngloGold Ashanti asook die 3,5% van Village Main vir vaardigheidswerkers verwerp.

Die derde ronde van onderhandelinge vind op 25 Julie plaas wanneer vakbonde formeel sal terugvoer gee oor die raad se voorstelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.